NewsSchools

Kyk: Hoërskool Florida se matrieks reg vir die Covid-19 uitdaging

“Ek dink ons almal gaan emosioneel baie meer bewus wees van mekaar, mekaar se behoeftes, mekaar meer oppas, mekaar waardeer en ondersteun”

Hoërskool Florida se onderwysers het op Maandag, 8 Junie, hul matrieks met ope arms en opgewonde harte verwelkom, nadat hulle vir drie maande nie kon skoolgaan nie.

Julius Katzke, die skoolhoof, het gesê, “Ons was so opgewonde om ons matrieks terug te verwelkom. Die skool is vooraf ontsmet en geskrop om te verseker dat al ons leerders en onderwysers veilig sal wees. Ons het 4 000 liter saniteerder, ekstra skandeerders, moppe en besems aangekoop, en strukture is in plek gestel.”

Matrieks pas sosiale distansiëring toe voordat hulle in die skoolsaal mag ingaan.

Volgens Julius sal skoolgaan nooit weer dieselfde wees nie, aangesien feitelik alles, behalwe in die klaskamer, verander, en hy het gesê, “Jy moet in rye staan, 1,5m uitmekaar om die terrein te betree, om die toilet te gebruik, en om die klas binne te gaan. Jy moet alles ontsmet; ‘n lap en saniteerder word nou jou beste vriend. Jy word skandeer, en almal lyk en klink anders met hul maskers aan. Die sportveld is verbode terrein en afgesper. Jy mag nie meer mekaar druk en jou toebroodjies deel nie.

Ek dink ons almal gaan emosioneel baie meer bewus wees van mekaar, mekaar se behoeftes, mekaar meer oppas, mekaar waardeer en ondersteun. Alhoewel ons 1,5m van mekaar af gaan wees, glo ek ons as mense gaan baie nader aan mekaar beweeg.”

Sy boodskap aan die matrieks was eenvoudig: “Jy kan dalk dink dat daar niks van jou Graad 12-jaar oor is nie, maar daar is nog ses maande oor en jy moet nou alles daaruit haal. Die tyd is min, maar die geleenthede baie. Baie sterkte en voorspoed ten spyte van die onbekende, die bang en die onsekere. Onthou, jy is ‘n Florrie, en ons dien getrou.”

Hy het ook die ouers bedank vir hul ondersteuning tydens die inperkingstyd en het gesê, “Die toekoms is vir ons onbekend en u wonder wat gaan met u en u kind in die volgende maande gebeur. As onderwysers en ouers is ons in ?n vennootskap en moet ons hande vat om die Graad 12’s ten volle te ondersteun.”

Hoofseun en -dogter, Jan-Hendrik Niemand en Megan Kuin was baie opgewonde om terug te wees by die skool.

Vir die Graad 8- tot 11-leerders was daar ook ‘n spesiale boodskap: “Ek weet jy kan nie wag om terug te kom skool toe nie, maar kom ons byt vas en ons doen dit in solidariteit met ons nasie, want ons is verantwoordelike landsburgers. Die Graad 12’s is suksesvol terug en die ander grade sal spoedig aansluit.

Florries, dit is ongelooflik belangrik dat jy steeds elke dag by die huis volgens jou skoolrooster studeer. Gaan elke dag op al die skool se sosiale platforms om jou werk te kry, en moenie agter raak met jou akademie nie.” Hy het ook die Graad 8- tot 11-ouers gemotiveer om nie moed op te gee nie, en hulle daaraan herinner hoe belangrik hul rol in hul kinders se lewens is.

“My raad aan u is om u kinders emosioneel te ondersteun. Wees net die goeie ouer wat u nog altyd was, en verseker u kinders van u liefde en dat julle saam die toekoms aanpak. Doen alles in u vermoë sodat u kind toegang kan hê tot elektroniese platforms. Indien u ondersteuning nodig het, steek kers op by iemand wat weet.”

Mari Janse van Rensburg, wat Rekeningkunde vir Graad 10 tot 12 aanbied, sowel as Wiskunde Geletterdheid vir Graad 12, het ook vertel van haar ervaring, visie en opgewondenheid om weer terug te wees by die skool. Sy het vertel dat die inperkingstyd vir haar een van die lekkerste tye was, aangesien sy vir die eerste keer in jare tyd by die huis saam met haar eie kinders kon spandeer.

Maar, daar was ook ‘n paar uitdagings, “Soms was dit uitdagend om al die balle in die lug te probeer hou, mamma wees, huis skoonmaak, probeer om Graad 1- en 2-juffrou vir my eie kinders te wees, en dan ook my eie klasse by die skool te help wat daagliks wag vir my lesse.

Weereens het ek besef hoe uiters belangrik skool en die sosialiseringaspek daarvan vir kinders is. Ek het eerstehands beleef, deur my eie kinders, hoe hulle smag na hul juffrouens, maats en sommer om net lekker op die veld rond hardloop. Ons is tog nie gemaak om alleen te wees nie.”

Mari het erken dat sy aanvanklik redelik benoud was om terug te keer skool toe, aangesien sy nie seker was wat om te verwag nie, en het vertel, “Met my masker gereed, my eie handsaniteerder en gesigskerm, is ek benoud skool toe. Toe ek eers by die skool kom en sien tot watter mate Mnr Katzke, die bestuur en die beheerliggaam voorberei het vir ons terugkoms, het ek dadelik rustig gevoel. Baie dankie aan almal wat aan die voorbereiding gewerk het.”

Jan-Hendrik Niemand se temperatuur word geneem voordat hy na sy klas toe mag gaan.

Hersiening, inskerping en hulp aan leerders om agterstallige werk in te haal is waarop sy vir die eerste paar weke gaan fokus, en sy het ook ‘n spesiale boodskap vir die leerders gehad: “Maak die beste van jou situasie! Die idee wat jy in jou kop gehad het vir Graad 12, realiseer nie heeltemal soos jy beplan het nie. Nou moet jy die beste daarvan maak. Ons is hier om jou te help, te ondersteun en moed in te praat. Staan ‘n bietjie stil, haal asem en kyk na die mooi om jou wat God geskep het.”

Tharien Oosthuizen, die Graad 12-musiekonderwyser, het tydens die inperking hard gewerk om nie net haar eie Graad 7- en Graad 12-kinders te help met skoolwerk nie, maar ook om te verseker haar leerders hul weeklikse lesse ontvang. “Musiek is natuurlik ?n groot uitdaging, want dit is nie net ?n teoretiese vak nie, daar is ook ‘n praktiese been, lesse wat ek deur middel van Microsoft Teams, Zoom, Skype en selfs deur WhatsApp Video call aangebied.”

Haar voorbereiding vir die terugkeer skool toe was eenvoudig; sy wou seker maak die klaskamer is gereed sodat elke leerder gemaklik en veilig kon voel, “Ek gaan al die werk wat in die inperkingstyd behandel is, rustig weer deurgaan. Sodra ek seker is dat almal al die werk verstaan, is dit net hersiening, hersiening en nog ‘n keer, hersiening!”

Sy het met die volgende boodskap afgesluit: “Wees dankbaar vir die geleentheid wat jy kry om jou akademiese jaar te voltooi. Bly elke dag positief en werk hard. Kyk vorentoe; wat verby is, is verby. Moenie daaroor tob en jou bekommer nie”.

Jan-Hendrik Niemand en Megan Kuin, die skool se hoofseun en -dogter was altwee baie bly om terug te wees by die skool en hul vriende te sien. Hulle het saamgestem dat die inperkingstyd nie vir hulle altyd maklik was nie. Dit was vir hulle moeilik om op datum met hul werk te bly en gemotiveerd te bly om alleen te werk.

Hulle boodskap aan hul medeleerders is: “Al het ons baie van ons laastes misgeloop, is ons bevoorreg om die kans te kry om ons matriekjaar te voltooi. Gryp dus die geleentheid met altwee hande aan, doen jou bes, en onthou, jou toekoms is in jou hande.”

Kyk hier na die video’s:

https://www.facebook.com/HSFlorida/videos/276580330413571/

https://www.facebook.com/HSFlorida/videos/3992885904087349/

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button