Local newsNews

Roodekrans se ouma Tokkie blaas 99 kersies uit

Tokkie glo dat sy, as 'n ma van vyf kinders (en hulle beter helftes), 28 kleinkinders en 20 agterkleinkinders, haar deel bygedra ten opsigte van nasiebou.

Verjaardae is altyd lekker om te vier, maar wanneer jy in die bevoorregte posisie is om 99 kersies te kan uitblaas, is jy outomaties deel van ‘n elite klub.

Gewoonlik gaan hierdie groot mylpaalverjaardae gepaard met groot makietie, maar met die huidige nasionale inperking moes Tokkie van der Walt se familie bietjie meer kreatief wees en ‘n ander plan maak om haar dag vir haar spesiaal te maak.

Op Saterdag, 19 Julie het Ronelle Davel, Tokkie se kleindogter, dus vir haar ‘n groot ruiker laat maak, ‘n spesiale verjaardagkoek laat bak en dit alles met groot silwer ballonne (wat haar ouderdom uitbeeld) afgerond – ‘n gebaar wat gesorg het dat Tokkie se dag net soveel meer spesiaal was.

Tokkie, wat vir die afgelope 17 jaar ‘n inwoner van Roodepoort is, is op 19 Julie 1921 in Delareyville in die destydse Wes-Transvaal gebore, en sy glo dat dit ‘n baie koue dag moes gewees het want, volgens haar, het sy nog nooit haar verjaardag op ‘n warm dag gevier nie.Sy het in Malvern grootgeword, en was as baba baie siek.

Sy was die eerste Suid-Afrikaanse baba wat ‘n operasie ondergaan het om die opening aan die onderkant van haar werwelkolom te herstel, wat deur spina bifida veroorsaak is. Op 12 Junie 1943 het sy trou beloof aan die liefde van haar lewe, en in 2003 het hulle hul 60ste huweliksherdenking gevier. Ongelukkig is haar man kort daarna oorlede.

“Een van my gunstelingherinneringe is die dag toe ek my man ontmoet het en later met hom getrou het. Niemand het my ooit so liefgehad soos hy nie, en ons het ook op dieselfde dag verjaar,” het sy vertel.

Tokkie glo dat sy, as ‘n ma van vyf kinders (en hulle beter helftes), 28 kleinkinders en 20 agterkleinkinders, haar deel bygedra ten opsigte van nasiebou.

Sy het tot en met 2017 alleen in die Sterlig Aftree-oord gewoon, maar nadat sy geval en haar heup gebreek het, het dinge verander. Haar dogter en skoonseun, Hettie en Ronnie Hendry het besluit dat dit die beste sou wees vir Tokkie om na haar heupvervanging by hulle te kom aansterk.

Alhoewel Tokkie ten volle herstel het, het dié reëling ‘n permanente een geword, en sy stap nog gereeld in hul tuin.Tokkie het gesê dat, ten spyte van die feit dat sy ‘n siekerige kind was, sy mooi na haarself gekyk het en ‘n gesonde tiener, en later volwassene geword het. Sy het wel genoem dat sy nooit geleer het om te bestuur nie, en altyd geloop het waar sy wou wees.

Later het haar man haar geneem waar sy wou gaan, en na sy dood het haar dogter Hettie dié pligte oorgeneem. Alhoewel sy nie spesifieke advies kan gee oor hoe om so ‘n hoë ouderdom te bereik nie, het sy afgesluit, “Ek weet nie hoekom ek sou oud geword het nie, maar ek glo dat my gesonde leefstyl en die feit dat ek baie gestap het, ‘n groot bydrae daartoe gelewer het.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button