NewsSchools

KYK: Bastion trap saam vir ‘n goeie doel

“Dankie ook vir Solidariteit vir hul ongelooflike ondersteuning aan die skool, so ook vir Laerskool Dr Havinga. Baie dankie vir Hoërskool Monument en Noordheuwel dat ons hul oefenfietse kon leen.”

Meeste mense pak gewoonlik die lang rit Kaap toe per motor of vliegtuig aan, maar op Donderdag, 27 Augustus het die onderwysers, leerders en gemeenskapslede besluit om dit per fiets af te lê.

Die rede vir hierdie besluit was baie edel, aangesien hulle dit gedoen het om te help geld insamel om onderwysposte te help red. Maar, hulle het darem nie fisies die sowat 1 400km op die pad spandeer nie; die kilometers is op spinningfietse in die skoolsaal voltooi.

Karen van Greuning, wat gehelp het om hierdie dag by die skool moontlik te maak, het verduidelik, “Hierdie projek is in samewerking met Solidariteit aangebied, en dit word die Trapsaam-kompetisie genoem. Hierdie nasionale projek se doel is om te help geld insamel vir onderwysers in beheerliggaamposte se salarisse.”

Kyk hier:

Sy het bygevoeg dat alhoewel die projek by die skool op kort kennisgewing gereël is, sy glo dit ‘n groot sukses was. “Ons het besluit om dit so ‘n bietjie anders as die ander skole aan te pak, en het nie net die skool se onderwysers en leerders laat deelneem nie, maar dit ook vir die gemeenskap en buurskole oopgestel. Ons het 156 deelnemers gehad wat uit ons onderwysers, personeel, leerders, lede van die onderskeie netbal-, rugby- en hokkiespanne, onderwysers en leerders van Laerskool Dr Havinga, sowel as gemeenskapslede bestaan het. Die gees onder die deelnemers was ongelooflik. Hulle en die toeskouers (wat van die galery af ondersteuning verleen het) het almal aan die streng Covid-19 veiligheidsprotokol voldoen,” het sy gesê.

Deelnemers is in spanne van vier ingedeel, en het in drie sessies (van ‘n uur lank) getrap. Die wedren het om 2.30nm by die skool afgeskop en die 1 450km moes om 5.30nm voltooi wees. Karen het gesê, “Vyftien minute voor die beplande eindtyd het ons deur Worcester gegaan, en met nog 111km om te gaan, het ons almal aangehits om baie hard te trap sodat ons teen 5.30nm Kaapstad kon binnetrap. Toe die trappers om 5.25nm Tafelberg in die verte sien, het die adrenalienstrome gepomp en met ‘n minuut oor het ons ons doelwit bereik.”

Sy het afgesluit deur elke deelnemer te bedank vir hul ondersteuning, “Dankie ook vir Solidariteit vir hul ongelooflike ondersteuning aan die skool, so ook vir Laerskool Dr Havinga. Baie dankie vir Hoërskool Monument en Noordheuwel dat ons hul oefenfietse kon leen.”

Donasies kan steeds gemaak word op Solidariteit se webtuiste.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button