Die potensiaal van die jeug ken geen grense of perke nie. Vir diegene wat van jongs af op die toekoms gerig is, staan niks in die pad van ‘n lonende en vervullende professionele loopbaan nie.
Laerskool Dr Havinga het ‘n beroepedag vir hul Graad 7’s sowel as die kleintjies in graad R op 21 en 22 Oktober gehou. Skoolhoof Marius Swanepoel het die dag vir die Graad 7’s geopen deur sy wysheid oor te dra. “Moenie bang wees om ‘n kans te waag nie. Niks in die lewe is maklik nie en dit verg baie harde werk. Onthou altyd dat as jy groot droom en hard werk, jy sukses sal behaal,” het hy gesê.

Die leerders het daarna ‘n paar speletjies gespeel wat spanwerk en geheuevaardighede getoets het. Hulle het ‘n klein voorsmakie van volwassenheid gekry, aangesien hulle vir hul regte antwoorde en optrede heerlik beloon is.
Daar was groot pret by die kleuterskool, want die kinders het prente geteken van dit wat hulle graag wil word wanneer hulle ouer is, kleihandafdrukke gemaak, ‘n stetoskoop uit huishoudelike materiaal gemaak en ook warmbrakke en roomys geëet.

Die gebeure van 2020 het die keuses van die oorgrote meerderheid van die seniorgroep beinvloed, aangesien meeste van hulle aangedui het dat hulle graag ‘n mediese beroep wil volg. By die Graad R-maats was die invloed van die personeel duidelik. “Ek wil ‘n juffrou word, want hulle maak kinders slim en beter,” het die jong Micaela Diana gesê.
“Dit was ‘n inspirerende dag. Dit is so goed om te sien dat die kinders nog steeds gelukkig is,” het Junique Beyer, Graad R graadhoof gesê.

‘n Leidende hand en duidelike toekomsvisie is van onskatbare waarde, maar so ook die skat van die jeug. Laat ons maar waak om dit nie te vinnig weg te wens nie.










