Laerskool Helderkruin is vol talentvolle leerders. Een van hulle is die Graad 4-spelkampioen, Arno de Beer.
Arno het aan die ATKV-DigiSpel-kompetisie in die afdeling vir Graad 4’s en 5’s deelgeneem en uitstekende resultate behaal.
Hy het teen 400 spellers van regoor die land meegeding en 77 persent in die kompetisie behaal. Sy skool en familie is veral trots op sy uitslag omdat hy gesukkel het om so vinnig op die rekenaar te tik.
Die doel van ATKV-DigiSpel is om deelnemers uit te daag en hulle aan te moedig om hulle spelvermoëns op te skerp. Deelnemers het twee spelrondtes aangedurf waartydens hulle woorde soos ‘appèlhofverrigtinge’, ‘immunisering’ en ‘begrotingsbesnoeiings’ moes spel.
Die leerder met die meeste korrekte antwoorde was die wenner, en indien twee spellers ewe veel woorde reg gespel het, is die totale tyd waarbinne die antwoorde verskaf is, gebruik om die wenner te bepaal.
Arno het Laerskool Helderkruin baie trots laat voel omdat hy een van hul leerders is.



