Daar is twee soorte ouers in 2021: diegene wat nog steeds bekommerd is om hul kinders skool toe te stuur, en diegene wat vertrou dat skole die nodige maatreëls tref om die leerders teen Covid-19 te beskerm.
Laerskool Helderkruin se nuwe hoof, Peet Badenhorst, wil die Kruiner-familie gerus stel dat die skool 100 persent gereed is vir die komende skooljaar. Die hoof het gesê dat die skool baie gelukkig is omdat hulle die klaskamers drie keer per dag kan ontsmet en aan die einde van elke dag dit diep en deeglik skoonmaak.
Verlede jaar het baie leerders met hulle konsentrasie gesukkel. Terwyl hulle by die huis gewerk het, is hul aandag afgetrek deur alles wat rondom hulle gebeur het. “Ons het regtig gesien dat jy nie ‘n onderwyser kan vervang nie,” het Peet gesê.
Laerskool Helderkruin het verskeie planne om die leerders se werk op datum te bring. Elke graad gaan met twee weke hersiening begin, sodat die onderwysers kan bepaal op watter vlak die leerders is na verlede jaar se drama. Die onderwysers gaan op die basislyn begin en saam met die leerders van daar af werk om seker te maak dat hulle op datum en gereed is vir ‘n hoër graad.
Peet het gesê dat hy verstaan hoekom die heropening van skole uitgestel is, want die veiligheid van die leerders en personeel moet eerste kom. Die leerders sal egter geen werk misloop nie omdat die kwartaaldatums ook verander het en daar dus nie minder skooldae sal wees nie. “Jy kan altyd môre rugby speel, maar jy het nie ‘n ander lewe nie. Dit is die beste om veilig te wees,” het hy afgesluit.



