Nog n Florrie-Fantastiese jaar het gekom en gegaan. Ten spyte van die koronavirus se ontwrigting en baie uitdagings vir die personeel sowel as die leerders het die klas van 2020 nie teleurgestel nie, en Hoërskool Florida is nog steeds geseën met pragtige uitslae.

Die skool se toppresteerders is Kaitlyn Castle wat sewe onderskeidings met 85,8 persent gemiddeld behaal het. Megan Kuin het met ses onderskeidings en ‘n gemiddeld van 85 persent geslaag, en Charmoné Carr en Taytem Marucchi spog elk met vyf onderskeidings. Hoërskool Florida het ‘n slaagsyfer van 96 persent met ‘n fantastiese totaal van 181 onderskeidings. Daar het 74 persent van die leerders met baccalaureus-vrystelling, oftewel universiteitsvrystelling geslaag.

Hoërskool Florida spog ook met pragtige vakgemiddeldes met uitstaande prestasies van 83 persent, 73 persent en 73 persent, onderskeidelik in Drama, Musiek en Siviele Tegnologie. “Ons salueer ons Graad 12-personeel sowel as die Graad 12-leerders vir hul toegewyde harde werk regdeur die jaar. Mag die Florrie Magic in 2021 hoogty vier. Florrie-leerders is arende en ons vlieg hoog,” het Julius Katzke, die skoolhoof gesê.

“Hoërskool Florida salueer graag elke matrikulant wat in Januarie 2016 as ‘n skaam en bang graadaggie by die hoofhek ingestap het. Vandag stap julle by ons ongelooflike skool uit, gereed vir al die uitdagings daar buite. Mag ons Liewe Vader julle elkeen ryklik seën met ‘n mooi en suksesvolle lewe. Mag elke matrikulant altyd onthou om groot te droom en dit te leef, en die beste jy te wees wat jy kan; om altyd ‘n arend te wees en hoog te vlieg; elke oggend vir jouself te sê ‘More ma se mooiste’; seën te spreek en dit te lewe. Nogmaals baie geluk en voorspoed,” het Julius afgesluit.



