Onderwysers is nie net rolmodelle vir die jeug en die gesagfigure weg van die ouerhuis af nie, maar die waardering wat die kinders vir hulle het, is ook die gom wat alles bymekaar hou.
Laerskool Florida sal in 2021 ‘n paar vars gesigte in hul personeelkamer verwelkom. Ses nuwe onderwysers en ‘n spesiale dirigent agter die skerms bring ‘n wye verskeidenheid talente en kundigheid na die reeds uitstekende tafel. Die skool werk reeds so goed soos ‘n Switserse horlosie, en daar sal van die nuwe toevoegings verwag word om ook aan die hoë verwagtinge te voldoen.

Die persoon wat daarvoor sal sorg dat ‘n positiewe beeld van die skool uitgedra word, is die nuwe bemarkingsbestuurder, Nicole du Toit. Kyla van Zyl en Justin Alberts sluit aan as onderwysassistente, en die veelsydige Phish Vundla sal verskeie vakke vir Graad 1’s tot Graad 7’s aanbied. Zietske Rust is die nuwe Graad 1-onderwyser, en Robin-Lee Venter sal na die Graad 2’s omsien. Fanus Alberts sal vir die seniorleerders in Graad 6 en 7 klasgee.

“Ons by Laerskool Florida is geseënd om nog ‘n jaar ons passie uit te leef. Ons weet dat ons tans in onsekere tye lewe, maar ons glo en weet dat met Christus niks onmoontlik is nie. Ons stap elke dag by die skoolterrein in met ons vyf Florrie-waardes: Eerlikheid, Omgee, Verdraagsaamheid, Respek en Trots. Saam met ons kompas van geloof en die ondersteuning van die Florrie-gemeenskap sien ons kans vir wat 2021 vir ons bied,” het die skoolhoof, Renier van Eyssen gesê.

“Ten spyte van die uitdagings weet ons die jaar sal vir ons net vreugde en voorspoed bring. Kom reis saam met die Florrie-familie,” het hy afgesluit.




