NewsSchools

Glo jy aan die Tandmuis?

'n Paar Laerskool Dr Havinga-leerders het vir die Roodepoort-gemeenskap meer oor die Tandfeetjie en die Tandmuis geleer.

Die onskuld van ‘n kind wat nie deur die wêreld beïnvloed is nie, is onvergelykbaar. As ons ouer word, glo ons egter nie meer aan karakters soos Kersvader, feetjies en die Tandmuis nie, maar hierdie klein, onskuldige mensies glo van harte.

Die Record het met ‘n paar van Laerskool Dr Havinga se leerders gesels sodat hulle die Roodepoort-gemeenskap meer kon vertel oor die Tandfeetjie en die Tandmuis.

Dani Potgieter, 6, en Chrislynn Janse van Rensburg, 5. Foto: Amy Slocombe.

• Dani Potgieter, ‘n sesjarige Graad 1-leerder het gesê die Tandmuis gebruik haar tande om ‘n huis te bou. Die huis lyk baie mooi, want haar tande is altyd mooi. Sy glo dat elke huis sy eie Tandmuis of Tandfeetjie het, en dat al die Tandmuise en -feetjies saam ‘n groot wêreld met tande bou. As sy ‘n tand wissel, sit sy dit in haar skoolskoen en as sy wakker word, kry sy geld in die skoen. As haar tand wegraak voordat sy dit in haar skoolskoen kan sit, skryf sy vir die Tandmuis ‘n briefie waarin sy jammer sê, dan bring hy steeds vir haar geld.

• Die vyfjarige Chrislynn Janse van Rensburg glo aan die Tandfeetjie. Sy het gesê dat sy altyd sorg dat sy haar tande borsel, want as jy vir die Tandfeetjie ‘n slegte tand gee, gaan sy nie vir jou geld bring nie. Die Tandfeetjie het towerkragte, daarom hoef sy nie ‘n masker te dra nie. Sy vlieg waarheen sy ook al wil gaan, en as sy moet, kan sy swem ook. Chrislynn het vertel dat haar ouers die Tandfeetjie persoonlik ken, en as sy ‘n tand wissel, dan roep hulle die feetjie en laat haar in die huis inkom.

Kyk hier:

• Suzette Britz is agt jaar oud en het gesê dat haar Tandfeetjie baie ryk is en altyd vir haar baie geld bring omdat sy dinge vir haar huis maak as ‘n tand uitval. Sy het reeds ‘n swembad, ‘n klein kamertjie en ‘n klein huisie vir die feetjie gemaak. Sy skryf ook altyd ‘n briefie waarin sy vir die feetjie vrae vra. Sy het uitgevind dat die Tandfeetjie lang bruin hare het, dat haar gunstelingkleur pers is, en dat haar gunstelingkos malvalekkers is.

• Die agtjarige Esmari Roelofse het vertel dat die Tandmuis ‘n klein hoedjie op het en ‘n voorskootbroek (dungarees) met ‘n sak aan die voorkant dra waarin hy die tande hou. As jy vir hom ‘n slegte tand gee, kry jy net 50 sent. As jy mooi tande wil hê, moet jy wegbly van Coke, en gesonde kos soos groente en vrugte eet. Sy het twee honde, maar sy is nie bang dat hulle die Tandmuis sal eet nie. Die honde slaap by haar ma, en as die Tandmuis haar tand wil kom haal, dan hou haar ma die honde weg.

• Angelique van Wyk is sewe jaar oud. Elke keer as sy ‘n tand wissel, sit sy die tand in haar skoen of onder haar kussing met ‘n briefie vir die Tandmuis. Hy het towerkragte, en daarom het hy soveel geld om vir die kinders te gee. Hy maak dit self. As jy ‘n slegte tand in jou skoen sit, plant die Tandmuis dit net in die grond, en jy kry minder geld. Maar as jy ‘n mooi tandjie gee, dan gaan die Tandmuis jou tand gebruik om sy huis te bou. Sy glo dat as sy ‘n tand verloor, kom die muis dit met ‘n bakkie haal.

Related Articles

 
Back to top button