Een van die beste maniere waarop mens kan verbeter is dikwels om te luister na wat ander mense wil hê.
Drie jaar gelede, toe Dylan Hide in Graad 8 in Hoërskool Florida was, het hy ‘n brief aan sy skool geskryf om te vra of hulle ‘n radiostasie kan begin. Na baie werk is Radio Florries op Dinsdag, 20 April bekendgestel. Radio Florries sal tydens die twee daaglikse pouses oor die skool se luidsprekers gehoor kan word.

Daar is tans 23 leerders wat deel is van die radiospan. Hulle maak beurte om gedurende pouses een van die drie mikrofone te beman. Die radiostasie gaan musiek speel, onderhoude met medeleeders en onderwysers voer, en net ‘n ontspanne omgewing vir die skool skep.
Wiaan Willemse en Melina Cox het saam met Dylan die heel eerste skof behartig om al die mense wat die skool se opedag bygewoon het, te vermaak. Dylan het gesê dat sy droom is om by ‘n radiostasie te werk, dus gaan Radio Florries hom help om solank te oefen. Hy is so opgewonde dat dit uiteindelik ‘n werklikheid geword het.
Wiaan het gesê dat hy aangesluit het om sy selfvertroue te bou vir wanneer hy ‘n akteur gaan word. Melina het gesê dat sy ook in die vermaaklikheidsbedryf wil werk, en dat radiowerk en toneelspeel aanloklike opsies is.
Al drie hierdie jong radiosterre hoop dat Radio Florries sal groei tot op die punt waar dit met die gemeenskap gedeel kan word.



