NewsSchools

Gemeenskap rou na Ebies-skoolhoof sterf

Die gemeenskap is onlangs geruk deur die skielike afsterwe van Laerskool Ebenhaeser se hoof, Renier du Preez.

Die dood van Renier du Preez, Laerskool Ebenhaeser se hoof, laat nie net ‘n leemte in die harte van sy familie nie, maar ook in die gemeenskap.

Renier is op Saterdag 12 Junie oorlede nadat hy einde Mei positief getoets het vir Covid-19. Renier het in Junie 2020 in moeilike omstandighede die leisels van die skool oorgeneem.

Hy was voorheen adjunkhoof by Laerskool Dr Havinga, en het ‘n passie vir kinders en veral vir sy skool gehad. Hy het diens aanvaar as Tegnologie-onderwyser, en Lizelle Kies van Havies het vertel dat sy onthou hoe hy met die intrapslag gewys het dat hy anders dink.

Hy het sy skoolbanke vervang met driehoekige staaltafels, en sinkplate teen die muur gemonteer.

Ek onthou hoe dit die ouer personeel se oë laat rek het,” het sy gesê.

Renier is later as adjunkhoof van die skool aangestel voordat hy die pos as hoof by Ebies aanvaar het.

Die 54-jarige Renier is in Pretoria gebore. Hy en sy vrou Jackie, met wie hy 32 jaar getroud was, het twee kinders, Natasha en Ruan. Hy het aan die Goudstad Onderwyskollege studeer, en bykomende kwalifikasies aan die Universiteit van Johannesburg en Unisa verwerf.

Ruan het vertel dat sy pa se terggees en liefde vir sy familie altyd vir hom uitgestaan het. Hy was altyd vol grappe en het ‘n aansteeklike glimlag gehad.

“Hy het groot dinge beplan vir Ebies. Onderwys, en sy liefde en passie vir kinders was ‘n roeping; hy is geskape om ‘n onderwyser te wees.”

Volgens Ruan het dit sy pa regtig gelukkig gemaak om die hoof van Ebies te kon wees, want daar kon hy ‘n verskil maak. Hy het ook graag tyd saam met sy familie spandeer en aktief gebly. Oefening was deel van sy identiteit, het Ruan bygevoeg.

Renier was ongelooflik opgewonde toe hy die hoof by Laerskool Ebenhaeser geword het. Hy het geglo dat dit die Here se doel met sy lewe was. Hy het met entoesiasme en ywer sy nuwe taak as skoolhoof daar aangepak, en in ‘n kort tydjie ‘n reuseverskil gemaak. Ek kon op sosiale media sien hoe daardie skool se ouers, personeel en kinders begin blom het onder sy leiding. Hy was opreg lief vir en trots op hulle,” het Lizelle Kies van Laerskool Dr Havinga gesê.

Daar is beslis nie ‘n tekort aan herinneringe wat sy familie van hierdie merkwaardige man het nie. Ruan het gesê dat hy sy pa se toespraak op sy sussie se 21ste verjaarsdag sal onthou, asook die laaste braai by Renier se huis met sy verjaarsdag. Dan is daar die storie van Renier wat erg begin hik het van stres toe Jackie in kraam was met Ruan.

“My pa laat ‘n groot leemte in almal se lewens wat nie gevul kan word nie. Hy het baie mense se lewens aangeraak, en hy het baie groot en diep spore in die wêreld getrap. Hy gaan werklik gemis word.”

Renier du Preez tydens Mandela-dag verlede jaar. Foto: Natasha Pretorius.

Huldeblyke het ingestroom na Renier se afsterwe.

• Marina Breed, Departementshoof Opvoedkundige Leiding by Laerskool Dr Havinga het gesê, “Renier het met helder oë, ‘n suiwer hart en ‘n sagte gees geleef. ‘n Poel waaruit soveel kon skep en aangee. Waar is die woorde wat sê: ‘In U Woord word ons sirkel voltooi. Ons einde is ook ons begin. Die ou dinge het verby gegaan. In U het alles nuut geword.’ Renier se nalatenskap van liefde, vrede en omgee sal nog lank voortleef in die harte van dié wat dit ontvang het.”

• Elri Coetzee, Graad 3-onderwyseres by Laerskool Dr Havinga het gesê, “Ons harte is seer! Ons woorde is min. Ons by die Havies gaan meneer vir seker baie mis! Ons kleintjies was maar versigtig, bang vir hierdie groot, lang meneer – maar hulle het ook die wêreld se respek en liefde vir hulle Meneer de Peer gehad. Al kon hul nooit meneer se van reg uitspreek nie was dit altyd vir hulle lekker om meneer te sien en te groet, en hulle het vinnig agtergekom meneer is een groot meneer wat net uit liefde en omgee bestaan. Dankie vir die diep voetspore wat meneer in ons harte getrap het, dit sal nooit verlore gaan nie. Dankie dat meneer altyd daarna gestrewe het om ons skool mooi te maak van binne en buite. Meneer los verseker ‘n groot leemte by die onderwys. Rus in vrede meneer. Tot ons mekaar weer sien.”

Lizelle Kies, Departementshoof Grondslagfase by Laerskool Dr Havinga het gesê, “As kollega en mentor was Renier een in sy soort. Hierdie lang man – ons Gentle Giant – het met sagte oë gekyk na kinders en personeel. Hy was altyd regverdig en het die vermoë gehad om die ander kant van die storie te verstaan. Hy was ‘n trotse Havie en kon op die Prysuitdelingsaande nie sy trots wegsteek wanneer hy die seremoniemeester was nie.

“Renier was iemand wat met passie gelewe het, wat nie maklik moedeloos geraak het nie en wat altyd omgegee het. Hy het ‘n sagte hart gehad en het baie keer eerder mooi gepraat as geraas.

“Hy was so trots op sy twee kinders wat ook Havies was, en was op sy gelukkigste wanneer hy tyd saam met hulle kon spandeer.

“Renier se plek op aarde is leeg en sy stem is stil, maar die saad wat hy in kollegas, families en kinders se lewens gesaai het, sal nooit ophou groei nie. Tot ons mekaar weer sien, Renier.”

Voormalige skoolhoof van Dr. Havinga, Leon Visser het gesê, “Dit was ‘n absolute skok om van sy afsterwe te verneem. Dit is ‘n tragedie. Hy was my regterhand vir byna 15 jaar. Ek het hom geken as iemand wat ‘n groot liefde vir sy skool gehad het. Hy laat ‘n groot leemte in die onderwys, en hy het so baie drome en idees vir Laerskool Ebenhaeser gehad. My en my familie se harte gaan uit na sy familie, skool en kollegas.”

Op sosiale media het baie skole hul hartseer uitgespreek. Laerskool Krugersdorp-Noord het gesê, “Met groot hartseer het ons verneem van die afsterwe van die hoof van Laerskool Ebenhaeser, mnr Renier du Preez. Noordskool deel ons medelye met die familie van mnr Du Preez asook die personeel en leerders van Ebies. Rus in vrede, mnr Du Preez.”

Hoërskool Monument het op hul sosiale media gesê, “Dit is met groot hartseer dat ons verneem het van die afsterwe van mnr Du Preez (hoof van Laerskool Ebenhaeser). Hy het in ‘n kort tydjie diep in die Ebenhaeser-gemeenskap se harte gekruip. Hy het die kinders, sy personeel en gemeenskap op die hande gedra. Monnas salueer ‘n groot onderwysman!”

Laerskool Millenium Primary het gesê, “It is with great sadness that we have learnt of the passing of Mr Renier du Preez, principal of Laerskool Ebenhaeser. Our deepest condolences to Laerskool Ebenhaeser and Mr Du Preez’s family.”

Laerskool Kenmare het gesê, “Ons innige simpatie met Laerskool Ebenhaeser en die Du Preez-gesin. Mnr Du Preez was ‘n puik hoof en ‘n groot vriend van die gemeenskap. Rus in vrede.”

Curro Krugersdorp het gesê; “Ons innige simpatie gaan uit na die personeel, leerders en ouers van Laerskool Ebenhaeser met die skielike heengaan van hul hoof, mnr Du Preez. Mag God jul onderskraag in die hartseertyd.”

Hoërskool Bekker het gesê, “Ons innige meegevoel aan die familie, vriende en kollegas van meneer Renier du Preez asook die leerders van Laerskool Ebenhaeser met die afsterwe van hul skoolhoof.

Meneer Du Preez was ‘n ongelooflike mens en het ‘n yslike bydrae gelewer tot die gemeenskap. Ons dra meneer Du Preez se familie en die Ebie-familie in ons gebede en bid dat die Here vir u vertroosting sal bring in hierdie hartseertyd.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Clinton Botha

For more than 4 and a half years, Clinton Botha was a journalist at Roodepoort Record. His articles were regularly published in the Northside Chronicle now known as the Roodepoort Northsider. Clinton is also the editor of Randfontein Herald since July 2020. As a sports fanatic he wormed his way into various "beats - as the media would know it - and admits openly that his big love always have something to do with a scoreboard, crowds and usually a ball that hops.

Related Articles

Back to top button