Gesond en in goeie luim op 100!
Tannie Tokkie van der Walt het op Maandag 100 jaar oud geword en was bly om dit saam met haar dogter te vier.
Die lewe is vol mylpale, maar nie een is so indrukwekkend soos die groot 100 nie. Tokkie van der Walt het op Maandag, 19 Julie ‘n volle eeu op Aarde saam met haar oudste dogter by die Luipaardsvlei Tehuis vir Bejaardes gevier.
Hettie Hendry het verduidelik dat haar ma, tannie Tokkie met die toestand spina bifida gebore is en die eerste Suid-Afrikaanse baba was wat ‘n ruggraatfusie-operasie ondergaan het op net nege maande oud. “Die dokters het destyds gesê sy gaan nie baie oud word nie. Mamma het nog die operasieletsel wat vandag steeds baie gevoelig is. Hulle het ook voorspel dat sy eendag sou sukkel om te loop – maar sy loop, en as jy haar ‘n kans gee sal sy alleen loop. Sy het op 97 ongelukkig geval en ‘n heup gebreek. Ons het nie geweet hoe sy die operasie op haar ouderdom sou hanteer nie, maar sy is daardeur en daar sit sy nou. Sy kan loop en hulle help haar, maar ons is net baie bang dat sy val, want dit gaan nie goed wees nie.”
Tokkie is in 1921 op ‘n plaas in Delareyville gebore. Haar ouers het tydens die Groot Depressie en die droogte van 1929 tot 1934 na Malvern in Johannesburg verhuis waar sy die res van haar kindertyd deurgebring het.

Tokkie en haar man het 52 jaar lank in Edenvale gewoon. “Vandaar is hulle Sterlig Aftreeoord toe in Wilropark, en die afgelope drie jaar het mamma by my gebly want sy moet nou versorging kry.” Hettie het verder verduidelik dat Tokkie die afgelope drie maande in die Luipaardsvlei Tehuis se demensie-afdeling versorg word en dat daar ‘n duidelike verbetering in haar gemoedstoestand en selfs haar gesondheid is. “Hulle toegewydheid en ondersteuning is ontsettend groot.”
Op 100 jaar oud is tannie Tokkie duidelik gesond en in ‘n goeie luim is. Haar oë het ‘n sagtheid getoon toe ‘n kleurvol versierde koek voor haar geplaas is. Sy het saam met die paar mense om haar gelag en gesels voor sy die kerse uitgeblaas het.
Haar jongste, Gerda Pienaar woon in die Wes-Kaap en kon as gevolg van grendelbeperkings nie haar ma besoek nie, maar sy het ‘n brief vir haar geskryf, waarin sy sê, “Ons het almal so uitgesien om die dag saam met mamma te vier, maar die Here het dit anders bepaal. In gebed en gedagtes is ons heeldag by mamma. Dankie vir die beste mamma wat mamma vir my kon wees.”



