Hekel maak haar hart heel
Henriette du Toit het ongeveer nege jaar gelede haar eerste hekelprojek voltooi en sedertdien het die gogga haar ordentlik gebyt.
Met ‘n hekelpen as towerstaf, toor plaaslike inwoner, Henriette du Toit daagliks met net ‘n idee en ‘n bolletjie wol.
Sy het ongeveer nege jaar gelede haar eerste hekelprojek voltooi en sedertdien het die gogga haar ordentlik gebyt. Alhoewel dié kuns haar nooit as kind aangestaan het nie, het dit eers later haar belangstelling geprikkel toe sy gesien het hoe baie ‘n vriendin dit geniet om te hekel.
“Ek het absoluut niks geweet van hekel nie en het toe vir klasse gegaan. Alhoewel ek so ‘n bietjie kan brei, interesseer hekel my beslis meer. Die lekker ding daarvan is dat jy nie baie hoef te weet om iets te kan maak nie – jy kan ‘n hele produk voltooi met net die basiese steke. Dis vir my iets anders en iets nuuts,” het Henriette vertel.
Sy hekel graag beertjies, mussies, serpe, handskoene, komberse, matte en amper enige iets tussenin. Al het sy aanvanklik net vir die pret gehekel, het haar produkte gou soos soetkoek onder vriende en familie begin verkoop.
Volgens Henriette hou sy nie daarvan om dieselfde beertjie twee keer te maak nie.

“Elkeen van my produkte is uniek en ek maak dit spesiaal volgens die kliënt se spesifikasies. Ek hou self daarvan om net iets te maak al het ek nie ‘n bestelling daarvoor nie. Dis lekker en opwindend,” het sy gesê.
Voor Covid-19 het sy klasse vir hekelliefhebbers aangebied. Alhoewel die virus ‘n stokkie voor haar planne gesteek het, is sy trots daarop dat sy haar gehekelde produkte al onder andere aan ‘n skool, hardloopklub, liefdadigheidsprojekte, en selfs ‘n prokureursfirma verskaf het.
Sy geniet dit om tyd in haar werk te sit om seker te maak dis perfek. Al neem dit haar slegs ‘n uur of twee om ‘n beertjie te hekel kan dit tot ‘n dag neem om die finale produk te voltooi. Dis omdat hy eers met vulsel gestop en ander details bygesit moet word. Indien sy nie ‘n patroon kry vir ‘n spesifieke projek nie, skryf sy sommer self haar eie patroon.
Henriette droom daarvan om ‘n winkel te hê waarin haar produkte uitgestal kan word, maar bedryf vir eers haar besigheid vanuit haar huis. Sy moedig beginners aan om net aan te hou oefen en hul manier van hekel te vind, omdat almal se tegniek anders lyk.
“Mense wil te presies wees en dit maak nie altyd noodwendig ‘n verskil aan die einde nie. Dit gaan juis oor jou foute want dis hoe jy leer. En as iets nie reg lyk nie, moenie net moed opgee nie. Byt eerder vas en druk deur,” is Henriette se raad.
Indien jy meer wil weet van Henriette se produkte, skakel haar gerus by 083 563 6853.



