Onse Kombuis sorg vir smullekker kos
'My pannekoeke is die gewildste in die dorp. Almal weet van Linda se pannekoeke,'
Enige iemand wat al deur Witpoortjie gery het, het al Linda en Paul Erasmus se koswaentjie op die hoek van Generaal Pienaarlaan en Jan van Rooyenstraat gesien.
Diegene wat nie die straatname ken nie kan bloot hul oë toemaak, en die heerlike geur van pannekoek en boereworsrolle volg tot waar die Onse Kombuis-waentjie staan.
“My pannekoeke is die gewildste in die dorp. Almal weet van Linda se pannekoeke en almal weet my resep is die beste. Hierdie resep was my oorlede broer s’n en ek is geseënd om dit by hom te kon kry,” het Linda vertel.
Die Onse Kombuis-spyskaart bevredig inwoners se smaakkliere al vir die afgelope twee jaar. Hul het eers die besigheid van onder ‘n gazebo op die straathoek verdryf, maar die Departement van Gesondheid het hulle aangeraai om eerder ‘n waentjie aan te skaf om dié tipe warm kosse te mag verkoop. Hulle kan nou ‘n groter verskeidenheid kos voorberei en verkoop sedert hulle die koswaentjie gebruik.
Volgens die paartjie ken hulle die hele dorp, en die hele dorp ken hulle. Hulle groet graag al die verbygangers en motoriste met ‘n glimlag.

“Die inwoners van Witpoortjie is vreeslik lief vir boereworsrolle, maar ons biefburgers is op die oomblik die gewildste verkoper. Dit is ons brood en botter, en ongelukkig is een besige dag se verkope nie genoeg om ons vir ‘n maand te kan onderhou nie. Ons moet baie verkoop om te kan oorleef,” het Linda vertel.
Onse Kombuis is oop van Maandae tot Saterdae en verkoop pannekoeke, ribburgers, biefburgers, skyfies, samoosas, gerooktekaasworsrolle en boereworsrolle.



