NewsSchools

Florries-aktrise droom van die grootskerm

Sedert die matrikulant haar eerste rol in die groentjiekonsert vertolk het, het sy geweet die verhoog is waar sy hoort.

Hoërskool Florida-leerder, Shaeleigh Buys, is ‘n jong, opkomende aktrise wat daarvan droom om die volgende Charlize Theron te wees en haar naam op die grootskerm te sien.

Sedert die matrikulant haar eerste rol in die groentjiekonsert vertolk het, het sy geweet die verhoog is waar sy hoort.

“Toe ek die eerste aand opgetree het, en al die aandag was op my het ek geweet ek’s tuis. Ek was dadelik op my gemak en het dit geniet. Alles wat sleg was het net weggeval,” het sy vertel.

Sy het daarna in talle skoolproduksies opgetree en het ook aan die ATKV-Tienertoneel deelgeneem. Shaeleigh het vinnig besef dat sy nie haarself tot een tipe rol wil beperk nie, maar veelsydig wil wees in die rolle wat sy vertolk.

“Ek hou daarvan om nie myself te wees nie en om iemand anders te speel. Ek wil ‘n verskeidenheid rolle kan vertolk en in elke produksie iemand heeltemal anders wees as wat ek was in die vorige een,” het sy gesê.

Shaeleigh Buys is passievol oor drama. Foto: Alanicka Lotriet.

Om haar toneelspelvaardighede te verbeter het sy verlede jaar by SpeelToneel! aangesluit – ‘n geleentheidgedrewe dramaprojek wat kleuters en skoolleerders die geleentheid gee om op nasionale televisie in ‘n dramastuk te verskyn. Die projek word aangebeid deur ABS Produksies en bekende akteurs soos Desiré Gardner, Germandt Geldenhuys, Je-Ani Swiegelaar en Reynardt Hugo.

Die virtuele werkswinkel bestaan uit weeklikse lesse en maandelikse opdragte. Dié opdragte bestaan dan onder andere uit monoloë, improvisasiespele, en stilspele.

“Ek is was baie bevoorreg om onder die mentorskap van die talentvolle Jana Nortier te kon wees. Ek het so baie by haar geleer en ek kan nie wag om my nuwe vaardighede toe te pas nie,” het Shaeleigh vertel.

Sy is opgewonde om aan die einde van September te begin skiet aan ‘n telivisieproduksie genaamd ‘Vlug na Madagascar’. Sy sal die rol van ‘Berry’ vertolk – ‘n New Yorker wat vasgevang word in die ontstuimigheid op ‘n vlug na Madagaskar.

“Toe ek klein was het ek net geweet ek wil doen wat die mense op TV doen. Ek wil meer as een persoon wees en ek wil hê mense moet my naam ken. Ek wil in dramas, aksies, rillers, komedies en sommer alles tussenin speel,” het sy gesê.

Shaeleigh wil graag Drama aan die Universiteit van Pretoria studeer, en droom daarvan om eendag in ‘n Marvel-fliek te speel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button