Emmers vol liefde en genade
Hul storie het begin toe hulle as kinders 'n paar huise van mekaar af in Welkom in die Vrystaat gebly het.
‘n Huwelik is soos ‘n tuin wat gereeld water moet kry, en die onkruid wat dreig om oor te neem, moet uitgetrek word. Sodoende kan die saadjies van liefde en erkenning wat geplant word, die blomme en vreugde word wat later in die tuin van die huwelik gepluk kan word.
Vir die afgelope 49 jaar het die 71-jarige Jakobus en 67-jarige Carolina van der Linde nie vir een dag versuim om hul liefde vir mekaar te kweek nie.
Hul storie het begin toe hulle as kinders ‘n paar huise van mekaar af in Welkom in die Vrystaat gebly het. Hul verhouding het egter ‘n klipperige begin gehad.
“My ma wou niks met my pa te doen gehad het nie. As sy saam haar maats sou speel en my pa het opgedaag, was my ma ewe skielik skoonveld,” het hul dogter, Marie Kotze vertel.
“My oupa het eendag vir my ma geld gegee om by my pa se pa te gaan druiwe koop. Toe my ma daar aankom, het sy niemand gesien nie sommer wydsbeen oor die hek gaan sit en druiwe van die prieël afgesteel. My pa en sy pa betrap haar toe en sê, ‘Tokkie klein, jy hoef nie te steel nie my kind; vra net en ons sal vir jou gee’. Met die groot skrik het sy die mandjie druiwe laat val en huis toe gehardloop. Daardie vernedering het gemaak dat sy niks van my pa of sy familie wou weet nie.”
Daardie einste dag het Jakobus vir Carolina vertel dat sy eendag sy vrou sou word. Op hoërskool het hul paadjies egter geskei toe Jakobus saam met sy familie Noordwes toe getrek het waar hul met nartjies geboer het.

Vir hom was dit die perfekte verskoning om vir Carolina te sien – deur vir haar familie in Welkom nartjies te neem op pad na die destydse Johannesburg Mark. Maar, dié hardkoppige vrou wou steeds niks weet van Jakobus nie.
“My ma-hulle het Krugersdorp toe verhuis waar hul jare lank gebly het. My pa het ook na jare in Johannesburg kom werk toe dinge ‘n bietjie swaar op die plaas gegaan het,” het Marie vertel.
Dinge het eers in 1971 verander en Jakobus het uiteindelik ‘n kans gestaan. Hy het vir Carolina op haar 18de verjaarsdag gevra om te trou. Sy het eers ja gesê, maar het vinnig van plan verander toe sy afkyk en ‘n bierblikringetjie aan haar ringvinger sien. Haar ouers het haar gou kalmeer en hulle het daardie aand verloof geraak.
Hulle is dieselfde jaar op 2 September getroud, en het mekaar steeds so lief soos die dag toe hulle hul troubeloftes afgelê het. Deur die jare het hulle in Welkom, Margate en Lichtenburg gewoon.
“In Desember 2017 het my pappa ‘n ongeluk by die werk gehad en sy rug gebreek. Hulle het toe hier by ons in Weltevredenpark kom woon. Hulle is nog al die tyd hier by ons en ons is vreeslik lief vir hulle. Hulle is nou deel van ons gesin, en ons sal dit nie anders wil hê nie,” het Marie vertel.
Drie kinders is uit hul huwelik gebore, en hulle is ook die trotse ouma en oupa van agt kleinkinders en vier agterkleinkinders. Hul geheim is emmers en emmers vol genade, geduld en liefde, asook om te vergewe en te laat lewe.
“Ons ouers is regtig ‘n voorbeeld vir ons van hoe om mekaar te waardeer en te respekteer, en wat dit regtig beteken om liefde en geduld met die ander helfte in jou lewe te hê. Hulle het ons geloof, liefde, waardering, opregtheid, eerlikheid, en nederigheid geleer en dit sal ons altyd bybly. Ons is geseënd om sulke ouers vir so lank te kan hê, en ons maak ‘n punt daarvan om elke geleentheid ‘n spesiale geleentheid te maak. Ons is vreesllik baie lief vir hulle,” het Marie ten slotte vertel.



