Suid-Afrikaners hou van braai
Daar is nie 'n beter (of lekkerder!) manier om Erfenisdag te vier as om te braai nie, so steek jou vuurtjie aan, gooi jou tjoppie op en laat ons braai!

Hulle sê dat ‘n Suid-Afrikaner die talent het om, deur net die lug te snuif, vir jou te kan sê of die rook wat in die lug hang dié van ‘n huis is wat brand, ‘n veldbrand of ‘n braaivleisvuur.
Met 24 September om die draai heers daar weer groot opgewondenheid onder menige Suid-Afrikaners, want dit beteken ons kan braai! Alhoewel hierdie dag amptelik Erfenisdag heet, is dit ‘n dag waarop amper elke Suid-Afrikaner die geleentheid gebruik om sy braaivernuf ten toon te stel.
Nasionale Braaidag (soos wat Erfenisdag ook bekend staan) is 15 jaar gelede deur Jan Braai ingestel om Suid-Afrikaners aan te moedig om langs die vuur bymekaar te kom en heerlik saam te kuier. Sy rede hiervoor is eenvoudig, en hy het dit so verduidelik, “My doel met Nasionale Braaidag is om een dag te hê waarop Suid-Afrikaners as ‘n eenheid langs ‘n braai bymekaar kom en sodoende ‘n jaarlikse feesvierdag skep”.
Met hierdie verduideliking in my kop, kon ek nie help om te wonder nie, “Wat maak ‘n braai perfek?” Ek het so ‘n bietjie my navorsingshoed (oftewel Google) opgesit om hierdie vraag te beantwoord.
Volgens Jan Braai is die volgende drie wenke die belangrikste vir ‘n goeie braai:
• Jy moet altyd jou vuur met groot hout of kole maak – as jy wonder of jou vuur té groot is, is hy nogsteeds té klein!
• Bedien braaibroodjies saam met die braaivleis – jy kry dan sommer jou broodjie aan albei kante gebotter!
• Sorg dat jy altyd genoeg ys byderhand het terwyl jy braai – nie net vir jou drankies nie, maar ook vir ingeval jy brandwonde moet behandel!
Behalwe vir hierdie wenke is dit ook baie belangrik om die dag te geniet; dit is nie elke dag dat jy die geleentheid kry om terug te sit, te ontspan en tyd saam met vriende en familie te spandeer nie so, sit jou selfoon en rekenaar af. Die enigste goeie rede om jou selfoon uit te haal, is om ‘n foto te neem sodat jy die dag kan onthou!
Tot volgende week, kyk mooi na mekaar!



