Local newsNews

Melissa maak haar hart oop vir DBV

Melissa Noortman wou graag die diere by die DBV help nadat sy gesien het hoe 'n groot impak Covid-19 op hulle gehad het.

Melissa Noortman, ‘n finalis vir Mejuffrou Krugersdorp 2021 het onlangs haar hart oopgemaak om die Roodepoort/ Krugersdorp DBV te help.

Die 26-jarige Melissa het vertel dat sy nog altyd ‘n sagte plek vir diere het. Sy het besluit om in te spring nadat sy onlangs op sosiale media gelees het van die impak wat Covid-19 op die organisasie en hul diere gehad het.

Sy het gesien dat hulle sukkel om donasies en kos in te samel, en dit het haar hart gebreek. Sy besluit toe om te help.

Op 11 September het sy kosdonasies vir die organisasie gevat en sommer ook ‘n bietjie met die diere gaan help.

“Ek is nog altyd ‘n diere-mens. Ek sal elke dag by diere wou wees as ek kon. Hulle gee mens so ‘n positiewe gevoel en maak nie saak hoeveel keer hulle ‘n mens op ‘n dag sien nie, hulle is altyd opgewonde en liefdevol, en wys soveel waardering.”

Melissa werk as ‘n persoonlike assistent en studeer ook om ‘n fiksheidsinstrukteur te word.

“Ek is mal oor fiksheid, en berei tans voor vir die Bikini Fitness Bodybuilding-kompetisie op 11 Desember vir Summer Super Bodies.”

Sy neem al van die ouderdom van ses deel aan modelkompetisies en was al op die loopplank tydens kompetisies soos Mej Cansa, Mej DNA en Mej Wes-Rand.

Melissa Noortman is ‘n finalis vir Mej Krugersdorp 2021.

Haar liefdadigheidswerk is nie net tot die DBV beperk nie. Sy het vertel dat sy ook al oor die Kerstyd geskenke by hospitale gaan aflaai het, en vir die haweloses in Krugersdorp pakkies uitgedeel het met seep, waslappe en skoonmaakmiddels.

Sy beplan om in Oktober kolwyntjies aan haweloses uit te deel om vir hulle te wys daar is nog goeie mense, en ook om oor die Kerstyd vir kinderhuise ‘n projek te doen.

Melissa het gesê dat daar nie spesifieke eienskappe is wat mens moet hê om ‘n skoonheidskompetisie te wen nie, maar dat die heel belangrikste is om altyd net jouself te wees, want ” …dis die beste eienskap”.

Sy bedank ook graag die mense wat haar gehelp het om die DBV te help, en hulle is Nups Pet Shop, Dr Mark Wienand, Hester Klaasen, All about Animals Pet Boutique, Hennies Restaurant, en die Rant en Dal Animal Hospital.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button