Florries se Graad 11’s doen ‘n groot skenking aan Helpende Hand
Alle items gaan na die mense wat deur Ons Winkel bygestaan word.
Onderwys is meer as net die vorming van die gees, dit is ook die ontwikkeling van die hart.
Solidariteit Helpende Hand het op 12 Oktober ‘n skenking van Hoërskool Florida ontvang nadat die Florries se Graad 11-klas klere ingesamel het vir gemeenskapslede wat finansieel en maatskaplik swaarkry. Die projek het deel uitgemaak van hul Lewensoriënteringsvak waarvoor die Graad 11-klas elke jaar begunstigde kies. Vanjaar is dit die beurt van Helpende Hand.

Florries se hoofseun en hoofdogter vir 2022, Tristan de Hart en Charlize Gage het die skenking aan Helpende Hand oorhandig. ‘n Totaal van 86 sakke en bokse klere is ingesamel en sal na Ons Winkel in Florida geneem word waar dit uitgedeel sal word aan begunstigdes wat reeds geïdentifiseer is, of aan die winkels waar dit verkoop sal word.

”Ons het die hele jaar gebruik vir die insameling om ‘n beduidende impak te maak,” het Tristan gesê. “Dit was nie moeilik nie. Ons het vroeg besluit om die projek aan die gang te kry. Dit sal nie die wêreld verander nie, maar dit sal ‘n verskil maak in die lewens van die mense in ons gemeenskap,” het Charlize gesê.

Internasionale Onderwysersdag is op 5 Oktober gevier terwyl onderwysers ‘n blaaskans geneem het. Helpende Hand het toe die oorhandigingsgeleentheid gebruik om hul waardering vir die Florries-onderwysers te toon. Helpende Hand se Mariëtte van de Werken het ‘n klein geskenkie vir elkeen van die Florrie-onnies aan die skoolhoof, Julius Katzke, as ‘n bewys van waardering oorhandig.

Mariëtte het ten slotte die belangrikheid van die Helpende Hand-logo verduidelik. “Jou hand moet oop wees om te kan gee of te ontvang”.



