Local newsLocal sportNewsSport

Speler, afrigter, skeidsregter – hokkie is haar lewe

Sy het ook al verskeie hokkiespanne afgerig.

Passie is wat ‘n atleet agter die hokkiestok vasgepen hou wanneer daar niemand anders naby is om applous te gee nie.

Op die veld en agter die stok is die afgelope 22 jaar een van plaaslike hokkiespeler en -afrigter Annie de Wit se gunstelingplekke. Sy het op die ouderdom van sewe vir die eerste keer begin hokkie speel – saam met dogters twee jaar ouer as sy. Die sport is deesdae vir haar tweede natuur.

“Die gogga het net eenvoudig gebyt. Ek was nog altyd lief vir sport, en toe ek in die hoërskool moes kies tussen hokkie en netbal toe kies ek hokkie,” het sy vertel.

Annie is na skool gekies vir die Suid-Gauteng o.21C-span, maar weens onvoorsiene omstandighede kon sy ongelukkig nie haar plek in die span inneem nie. Sy het egter begin belangstel om ‘n hokkieskeidsregter te word.

Volgens Annie het sy in 2011 en 2012 as skeidsregter opgetree by die o.13’s se destydse IPT (Interprovinsiale Toernooi), waarna sy vier agtereenvolgende jare skeidsregter vir die o.16’s was.

In 2017 was sy skeidsregter vir die o.16’s in die IPT-finaal, en is in 2018 as die skeidsregterbestuurder vir dié ouderdomsgroep aangewys. Nadat sy in dieselfde jaar die skeidsregter in die B-afdelingfinaal was, is sy in 2019 as een van die agt beste o.18-skeidsregters in die land aangewys.

Dié talentvolle atleet was verlede jaar ‘n skeidsregter tydens die gesogte USSA- (University Sports South Africa-) toernooi en is boonop vir die Suid-Gauteng B-span gekies, maar die wedstryde kon ongelukkig nie voortgaan nie weens Covid-19-regulasies.

Sy het reeds verskeie hokkiespanne afgerig. Nadat sy vir ‘n derde jaar die West Rand Lions se o.13-span afgerig het, spog hulle met ‘n algehele vierde plek in die onlangse Indoor Nationals se Inlands-afdeling.

Intussen rig sy graag een of twee van Hoërskool Bastion se hokkiespanne af. Annie sien tans daarna uit om as deel van die Jozi Warriors-span aan die Joburg Hockey League deel te neem, wat na verwagting later vanjaar sal plaasvind. Sy beoog boonop om dié jaar as skeidsregter vir die IPT se o.21’s op te tree.

“As ‘n trotse lid van die Shumbas Hockey Club sal ek ook graag later vanjaar weer provinsiaal wil speel. Dit was nog altyd vir my lekker om mense, wat dieselfde passie as ek het, op so ‘n manier te ontmoet. Daardie vriendskappe is vir my baie spesiaal,” het sy ten slotte vertel.

“Dis ook vir my vreeslik lekker om saam met die kinders te kan werk en te sien hoe hulle groei en verbeter in die sport. Al weet ons nie altyd wat op ons wag met Covid saam nie, is ek opgewonde om te sien wat die jaar vir ons inhou!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button