NewsSchools

Die begin van ‘n nuwe avontuur by Roodies

'Leerders het met stralende, gelukkige gesiggies aan die einde van die dag huis toe gegaan.'

Mariska Visser van Laerskool Roodekrans skryf:

Vir talle van Laerskool Roodekrans se nuwe en jong leerders het hul avontuur op 11 Januarie 2022 begin. Wat ’n pragtige dag en gesig om te sien hoe trots ons leerders, tesame met hul ouers, hul tassies gedra het; en dit met groot opwinding in hul hartjies. Roodies se nuwe Graad 1’s het behoorlik gespog in hul nuwe skoolklere en blinkgepoetste skoene, en met hul netjiese tassies.

Terwyl die leerders in hul onderskeie klassies nesgeskop het, het die hoof Mnr Deon Rousseau die ouers in die saal verwelkom. Sy wens was om aan al die nuwe ouers pitkos te gee vir hierdie nuwe fase sodat hul as voorbereide ouers ook saam hierdie nuwe avontuur op die regte manier kan afskop. Daarom het hy in ’n poging om ouers te bemagtig vir Johan Smith van VITA-AMP genooi om met ons ouers te kom gesels.

Kyle Liebenberg is gereed vir die eerste skooldag. Foto: Alanicka Lotriet.

Nadat mnr Deon geopen het uit Mattheus 23, het hy die nuwe Roodie-ouers aangemoedig om betrokke ouers te wees, aangesien Laerskool Roodekrans graag ’n persoonlike verhouding met die ouers en kinders in afhanklikheid met ons Hemelse Vader wil hê.

Johan het daarna die ouers behoorlik aan sy lippe laat hang met sy kennis, waarheid en sy skerp sin vir humor. Hy het die skool ook gekomplimenteer en geluk gewens met die nuwe fasiliteite, pragtige skoolgronde en uitstaande onderwysers. Wenke vir ’n gesonde, positiewe kind is aan die ouers verduidelik deur ’n uitstekende aanbieding van skyfies en videogrepe. Johan se leuse waarby hy as gesoute kenner staan is ‘Love, limits, laughter’.

Delané de Lange tydens haar eerste grootskooldag. Foto: Alanicka Lotriet.

Hy het ook die belangrikheid van ouers se voorbeeld wat hulle tuis aan kinders stel, benadruk. So ook is tyd wat ouers met hul kinders moet spandeer van kardinale belang. Hy het afgesluit met die kragtige woorde wat elke ouer moet weet: “Wees die persoon wat jy wil hê jou kind eendag moet wees”. Laerskool Roodekrans is dankbaar dat so ’n bekende, uitstekende en welbelese kenner jaarliks deel van ons Roodie-avontuur kan wees.

Mnr Deon bedank Johan vir sy insiggewende aanbieding en die feit dat hy vir jare deel van die Roodie-familie is. Die 2022 Roodie-avontuur het nie net op 11 Januarie vir die juniors begin nie, maar ook vir die nuwe Graad 4’s wat ’n nuwe fase in hul skoolloopbaan betree. Hulle het hul nuwe onderwysers en klasmaats ontmoet, tyd saam met hulle spandeer en inligting ontvang wat hulle met hierdie nuwe fase kan help.

Yorke Lester is gereed vir die eerste dag van skool. Foto: Alanicka Lotriet.

Al die leerders het met stralende, gelukkige gesiggies aan die einde van die dag huis toe gegaan.

Die 2022 Roodie-avontuur het begin!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button