Helpende Hand maak kinderharte bly met skooltasdonasie
Die Skooltassie-projek is een van Helpende Hand se vlagskipprojekte, en dit sit sedert 2007 'n tassie, toegerus met hoëgehalte-skryfbehoeftes, in 'n hulpbehoewende graadeentjie se hand.
Helpende Hand se plaaslike motorfietsklub het vanjaar vir groot opwinding by vier laerskole in die omgewing gesorg.
Die Helpende Hand MC Club Wes-Rand, onder leiding van Adrian van de Werken, het gesê die motorfietsklub het in Januarie as deel van Solidariteit Helpende Hand se Skooltassie-projek nagenoeg 70 tassies aan hulpbehoewende Graad 1’s in Roodepoort en Randfontein gaan aflewer.
Die ridders op hul ysterperde was onderskeidelik by Laerskool Helderkruin en by Dr Havinga in Roodepoort voor hulle ook by Laerskool Rapportryer en Laerskool Randfontein volgepakte skooltassies gaan aflewer het.

“Al die skole het die motorfietsklub met ope arms ontvang en was baie dankbaar vir die ondersteuning. In baie gevalle is die tassies aan verteenwoordigers van die skool oorhandig, vanwaar dit privaat aan die hulpbehoewende Graad 1’s gegee is om hul identiteit te beskerm. Die kinders was ook baie opgewonde om al die motorfietse te sien,” het Adrian vertel.
Die Skooltassie-projek is een van Helpende Hand se vlagskipprojekte, en dit sit sedert 2007 ‘n tassie, toegerus met hoëgehalte-skryfbehoeftes in ‘n hulpbehoewende graadeentjie se hand. Daar word gereeld navorsing gedoen om seker te maak dat die inhoud relevant tot Graad 1’s se behoeftes is. Die inhoud van die skooltassies sluit onder meer in ‘n Christelike boekie, uitdraaikryte, ‘n legkaart, inkleurpotlode, gryspotlode, ‘n liniaal, skerpmaker, skêr, uitveër, gom, pennesakkie en penne. Die totale koste van so ‘n tassie is R400.
Nog ‘n item wat vir die eerste keer deel van die skooltassies uitmaak, is skoolskoene. Solidariteit Helpende Hand en My Walk het kragte saagesnoer om te verseker dat elke Graad 1 sy of haar skoene volstaan. My Walk het met die unieke oplossing vorendag gekom om gebruikte, gesaniteerde PVC-IV-sakkies, suurstofmaskers en gepaardgaande buise wat vir stortingsterreine bestem is, te herwin en daarmee hoëgehalteskoolskoene te vervaardig. Die skoolskoene is 100% herwinbaar, met die uitsondering van die veters.
Adrian het ‘n beroep gedoen op die publiek om by Helpende Hand betrokke te raak sodat die motorfietsklub in 2023 ‘n groter verskil te maak.
Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos aan mariette@helpendehand.co.za



