Local newsNews

Gemeentekiewiete word soos goud opgepas

Vir die afgelope paar jaar is die oop stuk veld oorkant die kerk wat die gemeente as parkeerterrein gebruik die tuiste van vier tot ses kiewiete.

Die Botaniese Tuin mag dalk hul bekende arende huisves, maar die NG Kerk Culembeeck spog met ‘n meer plat op die aarde voëltjie – die nederige kiewiet.

Vir die afgelope paar jaar is die oop stuk veld oorkant die kerk wat die gemeente as parkeerterrein gebruik die tuiste van vier tot ses kiewiete. Alhoewel hulle nie seker is of dit dieselfde voëls is wat jaarliks terugkeer nie, verwelkom die gemeente hulle elke jaar en bied vir hulle ‘n veilige skuiling.

Volgens gemeentelid en voëlliefhebber, Wessel Nel is dit Dikkopkiewiete. Alhoewel hul snags vreet, sien mens hulle bedags bedrywig in die veld. Hulle skrop graag nes op die grond in ‘n stukkie bos of iets soortgelyk sodat hulle hul eiers in vrede kan uitbroei.

Die kiewieteiers. Foto: Alanicka Lotriet.

“Dié voëls lê hul eiers in die somer. Soos met baie voëlspesies word daar net twee eiers per paartjie gelê, waarvan net die oudste of die sterkste kuiken oorleef. Dis elke jaar iets besonders vir ons om te aanskou en daarom probeer ons hulle beskerm waar moontlik,” het Wessel vertel.

“Daar kan meer eiers wees, maar daar is net twee waarvan ons weet. Die kiewiete is eintlik baie vriendelike voëls; of hulle weet ons probeer hulle help, weet ek ook nie, maar hulle sien ons nie noodwendig as ‘n bedreiging nie. Aangesien die eiers op die grond gelê word, hou ons hulle maar dop en vra gemeentelede om daarvoor op die uitkyk te wees wanneer hulle hul voertuie parkeer,” het die gemeente se koster, Loukie Jonck vertel.

“As ons byeenkomste het wat op die veld plaasvind, het ons gewoonlik iemand wat wag hou oor die eiers om seker te maak hulle word nie versteur nie. Ons is elke jaar opgewonde om ons gronde vir die spesiale gaste beskikbaar te stel.”

Dié brawe voëltjies met hul fyn, dun beentjies word al as deel van die NG Kerk Culembeeck-familie beskou, en die gemeente glo dat die eiers wat binnekort uitgebroei gaan word, gesonde kuikens sal lewer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button