Local newsNews

Inwoner bak met liefde en passie

'Teen die tyd dat ek in laerskool was het ek al my eerste sjokoladekoek self gebak,'

Alhoewel Charmaine Mclaren nog altyd lief was vir bak, sou sy nooit in haar wildste drome kon raai dat sy dit vir ‘n lewe sou doen nie.

Die besluit het egter maklik gekom toe die besigheid waar sy jarelank ‘n finansiële bestuurder was, hul deure in 2020 gesluit het.

“My ma het my op ‘n baie jong ouderdom leer bak. Ek het begin met eenvoudige koekies, en teen die tyd dat ek in laerskool was het ek al my eerste sjokoladekoek self gebak,” het sy vertel.

“Ek was nog altyd net lief vir die proses. Maar ek was nog liewer vir die eindresultaat. As die koek klaar is, en hy is mooi, en ek kan weet dat ék dit gemaak het – dis die beste gevoel. Uit rou bestanddele kon ek ‘n heerlike kunswerk skep.”

Charmaine het vir baie jare gebak vir ‘n ekstra inkomste en het so met verskeie resepte geëksperimenteer. Die ywerige bakster bak graag heerlike lekkernye soos koekies, grootkoeke, kolwyntjies en macarons.

Charmaine Mclaren doen waarvan sy die meeste hou. Foto: Alanicka Lotriet.

Volgens Charmaine eksperimenteer sy graag met geure soos Peppermint Oreo, Lemon Curd en Salted Caramel. Sy vertel met trots dat sy onlangs die perfekte Lemon Curd Macaron bemeester het.

Op die oomblik bak sy vir troues, kinderpartytjies, doopseremonies en nog vele meer.

“Ek geniet dit veral om verskillende tipes koekies te bak. Mense is baie keer op soek na redelik unieke en interessante versierde koekies, daarom hou ek daarvan om myself uit te daag daarmee. Elke dag is iets anders, en ek hou daarvan,” het Charmaine vertel.

“Dit gaan ook vir my oor die kleintjies se gesiggies wanneer hulle vir die eerste keer die koek sien; en ook die dankie sê-boodskappe van die kliënte. Dis lekker om te weet dat hulle werklik van my produk hou en dit waardeer.”

Alhoewel sy al jare lank bak, het Charmaine eers ‘n jaar en ‘n half gelede besluit op die naam ‘Because Baking’ vir haar besigheid wat sy van haar huis af bedryf.

“Ek sal graag my besigheid op so ‘n punt wil kry waar ek meer bestellings kry en elke dag besig kan wees. Ek oorweeg dit selfs om dalk ‘n klas of twee aan te bied vir dié wat belangstel. Ek kan nie wag om te sien wat die toekoms vir my inhou nie. Maar bak sal ek bak.” het sy ten slotte vertel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button