Local newsNews

Bastion-leerder as eerste prinses gekroon

Alhoewel die kroning verby is, bly dié 15-jarige passievol oor die projekte, en wil graag daarmee volhou.

Plaaslike skoonheid, Chanté van Eeden het onlangs haar dorp en skool se naam gehou toe sy as Mejuffrou Junior Krugersdorp Eerste Prinses gekroon is.

Die kroning van die wenners in die Miss Krugersdorp/ Randfontein 2021/ 22-kompetisie het op Saterdag, 26 Februarie by die Unveiled Church in Ruimsig plaasgevind. Volgens Chanté het elke finalis ten minste drie keer op die verhoog verskyn.

Die geleentheid het begin met ‘n dans deur die finaliste. Daarna het hulle eers in hul Going Green-uitrustings en laastens in aanddrag gepronk.

“Ek het die reis verskriklik baie geniet. Dit was so interessant en ek het soveel nuwe dinge geleer en mense ontmoet. Ek sal beslis weer vir die volgende Miss Krugersdorp/ Randfontein-kompetisie wil inskryf,” het die Hoërskool Bastion-leerder vertel.

Chanté het reeds ‘n paar suksesvolle projekte agter die rug en is tans besig met ‘n aantal nuwe gemeenskapsprojekte. Alhoewel die kroning verby is, bly dié 15-jarige passievol oor die projekte, en wil graag daarmee volhou.

Op die oomblik samel sy items in soos sanitêre produkte, klere en skryfbehoeftes vir minderbevoorregte skole en kinders in die area.

“’n Groot veldtog wat my baie na aan die hart lê is my 1 Pad = 1 Fab-projek. Navorsing toon dat vier uit tien meisies elke maand ‘n dag van skool verloor omdat hulle menstrueer. Dis gewoonlik meisies wat nie sanitêre doekies kan bekostig nie,” het Chanté verduidelik.

“Omdat ek boks wil ek ook baie graag een minderbevoorregte bokser borg met ‘n volle uitrusting en stel toerusting van alles wat hy/ sy nodig het om die sport effektief aan te pak.”

Sy sien daarna uit om gedurende die jaar aan verskeie skoonheidskompetisies deel te neem en om elkeen van haar gemeenskapsprojekte te bevorder. Indien jy wil help, of meer wil weet, skakel gerus vir Chantell Coetzee by 061 437 4671, of Chantel van Eeden by 084 643 7909.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button