Jong skoonheid ryg titels in
Dié Graad 1-leerder blink egter nie net uit op die skoonheidskompetisieverhoog nie, maar ook op die dansverhoog.
‘n Klein lyfie het onlangs groot opslae in die skoonheidskompetisiewêreld gemaak toe sy ‘n uitmuntende vier titels by die Miss Randfontein Kompetisie ingepalm het.
Dis niemand anders nie as Laerskool Helderkruin se Chloé Oberholzer wat op Saterdag, 26 Februarie nie net as Little Miss Randfontein aangewys is nie, maar die titels Best Dressed, Little Miss Photogenic en Little Miss Personality is ook aan haar toegeken. Dié gesogte kompetisie het by die Unveiled Church in Ruimsig plaasgevind.
“Die kompetisie het vir my meer as alles beteken. Dit was so lekker en ek het dit baie geniet,” het klein Chloé in haar skik vertel.
Toe sy gevra is wat dit vir haar beteken om te wen het sy die volgende geantwoord:
“Ek weet ek het hard gewerk en mooi geloop. Ek het ‘n groot kroon en blomme gewen en selfs ‘n sash. Ek het daarvan gehou om te loop en vir die mense te kyk en te glimlag. Ek het al my lopies gedoen wat ek al van kleins af geleer het.”
Dié Graad 1-leerder blink egter nie net uit op die skoonheidskompetisieverhoog nie, maar ook op die dansverhoog aangesien sy vroeër daardie selfde dag aan die World Easter Championships World Qualifier se eerste rondte deelgeneem het. Sy het daar ‘n tweede plek vir haar Slow Dance verower en ‘n derde plek vir haar Freestyle.
Sy sien daarna uit om later vanjaar aan Mini Miss RSA deel te neem en ook om met haar ABS Produksies en Mentor My Werkswinkel voort te gaan. Chloé hoop om teen die einde van die jaar in ‘n kortfilm te verskyn onder die mentorskap van bekende Afrikaanse akteur, Vilje Maritz.
“Ek sal graag weer aan so ‘n kompetisie wil deelneem want ek hou daarvan om mooi aan te trek en my beste te gee in alles wat ek doen. Ek is baie opgewonde oor alles wat voorlê,” het sy ten slotte vertel.
Chloé se huisgesin en die Kruiner-familie is trots op haar en haar ongelooflike prestasies.



