NewsSchools

Ryk verbeeldings vul skoolgange

Skole moedig 'n leeskultuur aan.

Of dit nou fiksie, niefiksie, avontuur of ‘n roman is, daar is niks so bevrydend soos om verlore te raak in ‘n ander wêreld nie.

Gedurende die afgelope paar weke het talle laerskoolleerders ander wêrelde verken sonder om eers hul klaskamers te verlaat. Ter viering van Wêreldboekedag wat jaarliks op 23 April plaasvind, kon leerders hul verbeelding bladsy vir bladsy vlerke gee.

Laerskool Roodekrans-leerder vier Wêreldboekedag. Foto: Verskaf.

Op Vrydag, 22 April het Laerskool Florida die dag op ‘n gepaste wyse gevier toe elke Florrie hul eie, unieke boekmerk kon maak. Met ‘n paar helderkleurpenne, kleurvolle vere, pypskoonmakers, toutjies, plakkers, versierings en natuurlik ‘n ryk verbeelding is ‘n stukkie papier sommer gou in ‘n spesiale hulpmiddel omgetower.

Laerskool Florida-leerders met hul boekmerke. Foto: Verskaf.

Net so was die leerders by Laerskool Horison gretig om Wêreldboekdag te vier deur hul eie boekmerke te maak en ‘n stuk uit hul gunsteling boek voor te lees. Elke Horie het die taak met groot trots en kreatiwiteit aangepak en het terselfde tyd die belangrikheid van lees besef.

Laerskool Horison-leerder vier Wêreldboekdag. Foto: Verskaf.

Vrydag, 29 April was ‘n opwindende dag vir die Laerskool Roodekrans-leerders toe hulle soos hul gunstelingstorieboekkarakter kon aantrek. Die skoolgange was sommer vroeg-vroeg al gevul met passievolle prinsesse, jagters, towenaars en skurke, om net ‘n paar te noem. Nodeloos om te sê, die leerders het hulself behoorlik in hul karakters ingeleef.

Laerskool Roodekrans-leerder vier Wêreldboekedag. Foto: Verskaf.

By Laerskool Dr Havinga is die dag met groot entoesiasme aangepak want Havies wat lees, word as ‘superheroes’ beskou. Op Vrydag, 6 Mei kon elke leerder dus volgens sy of haar gunstelingheld aantrek. Elke ‘superhero’ kon boonop ‘n paar bladsye uit hul gunstelingboek lees.

Die Havie-leerders het soos hulle gunsteling superhelde aan getrek. Foto: Verskaf.

Lees is nie net belangrik omdat dit leerders se kreatiwiteit en verbeelding ontwikkel nie, maar ook omdat dit ‘n onafhanklikheidsin ontwikkel. Skole het dus die geleentheid aangegryp om ‘n leeskultuur aan te moedig.

Die bekende gesegde lui mos dat ‘n kind wat lees, ‘n volwassene word wat dink.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button