Die kultuur van ‘n skool is waarskynlik selfs belangriker as die akademiese kurrikulum, want wanneer leerders ‘n positiewe gevoel teenoor hul skool het, is hulle geneig om beter te presteer.
Hoërskool Florida se koor, Con Spirito, het vanjaar ’n asemrowende koorfees gehou waar skole soos Helderkruin se kinderkoor, Fairlands se sanggroep en Hoërskool Roosevelt opgetree het asook ander musiekitems gelewer is.

Daar was ook heelwat kuns van die hoërskool se matriekkunsleerders te besigtig tydens die uitstalling by die Koorfees.
Van Maandag, 15 Augustus tot Vrydag, 19 Augustus, het die skool hul 21ste viering van die Jeug Oor Kultuur (JOK) Fees gehou om leerders aan te moedig om aan prettige aktiwiteite deel te neem en kultuur binne die skool te bevorder.

Florries het in die gees van die JOK Fees gekom deur dit af te skop met ‘n high tea wat ‘n dag voor die fees by die skool gehou is en gevolg is deur ‘n oggend van klassieke musiek.
“Wat ‘n wonderlike aand by die Koorfees tydens die 21ste viering van die JOK Fees. Dankie aan die verskillende skole wat van ons fees ‘n groot sukses gemaak het. Ons koor, Con Spirito, groei steeds nadat die 2020-pandemie alle aktiwiteite in skole gestuit het. Ons is baie bevoorreg om steeds ‘n koor te kan hê en op te tree – en besonder goed, as ek dit mag byvoeg. Ons Koorfees is Woensdagaand 17 Augustus gehou waartydens skole soos Laerskool Fairlands, Laerskool Helderkruin en Hoërskool Roosevelt ook deelgeneem het. Daar is ook twee musiekitems uitgevoer deur skoolleerders wat musiek by ons skool neem.
“Ons is baie bly dat die geleentheid so goed verloop het, en om te sien hoe ouers, leerders, familie en vriende bymekaar kom om die musikale talente van die kore te geniet en die asemrowende koormusiek in te neem,” het die skole se koororganiseerder, Talita van Niekerk gesê.





