André, ‘n voorbeeld vir ons almal
Soos talle ander in die land het André de Bryun sy werk verloor en besluit om 'n stokperdjie in 'n bestaan te verander.

In stede daarvan om slegs te vra vir geld, het André de Bruyn besluit hy weet hoe om met sy hande te werk, en op hierdie manier sy eie geld verdien.
Al gebruik mense daagliks Google Maps, as daar egter nie nommers op die huise is nie kom mens steeds nie altyd so maklik by jou eindbestemming uit nie. André het hierdie nood raakgesien en besluit om iets daaraan te doen. Vir drie maande verf hy al die nommers op huise in Florida en omliggende gebiede en al wat hy in ruil daarvoor vra is enigiets wat mense bereid is om te gee.

“Almal is baie mal oor hom, hy het ‘n baie aangename persoonlikheid … hy is baie kunstig,” vertel Alain Lotz, ‘n lid van die gemeenskap wat André se talent raakgesien het en sodoende besluit het om sy storie te deel.
Om die huise se nommers oor te verf is egter nie al wat André verf nie, hy het ook al kleuterskole se mure en besighede se advertensieborde geverf. Hy het sy stokperdjie om op mure te teken gebruik om ‘n bestaan te voer.

Tans is hy afhanklik van die Florida skuiling vir haweloses vir slaapplek, individue wat vir hom kos en klere gee en ook die Liberty Church wat elke tweede week vir hom kospakkies gee.
Die gereedskap wat hy gebruik, insluitende die verf en kwaste, kom ook van weldoeners en besighede. Die stensils wat hy gebruik het hy egter self uit lêer skeidings gesny. Daar is ook masjinerie waarvoor hy spaar wat hy kan gebruik om kunswerke te maak uit onder andere hout.
Sy grootste wens is dat iemand hom sal raaksien en weer ‘n werk gee, sodat hy weer in staat sal wees om op sy eie voete te staan.
André het nie tans sy eie selfoon nie, maar kan gekontak word op Alain Lotz se nommer by 064 732 2129.