Die bekende skoonheidskenner Hannon Bothma, ook bekend as die Glam Guru, het op 31 Oktober ’n damesoggend ten bate van Laerskool Florida aangebied.
Die geleentheid is in ’n stampvol skoolsaal gehou en deur meer as 200 vroue bygewoon.
Volgens die organiseerder, Madelain Holtzhausen, vorm die geleentheid deel van ’n reeks fondsinsamelingsprojekte wat daarop gemik is om die finansiële druk op die skool te verlig.
“Skole se begrotings is tot op die been gesny en boonop sukkel talle ouers om met skoolfondsbetalings by te hou,” sê sy.
“Laerskool Florida is welbekend as een van die top laerskole in die streek en dit is ’n hardverdiende reputasie wat hulle nie bereid is om te verbeur as gevolg van geldelike tekortkominge nie.
“Dus word daar sedert die begin van die jaar koppe bymekaargesit om te verseker dat die skool sy hoë standaarde voortdurend kan handhaaf sonder om kompromieë te moet aangaan.”
Madelain voeg by dat verskeie ander borge ook tot die sukses van die oggend bygedra het.

“Die ondersteuning vanuit die plaaslike besigheidsgemeenskap was wonderlik.”
Hannon het gaste met stories en staaltjies onder die tema Skoonheid van binne na buite vermaak, skoonheidswenke gedeel en verskeie pryse weggegee, waaronder ’n prys vir die bes-versierde tafel.
“Dit was ’n onbeskryflike sukses,” sê Madelain.
“Hannon was die perfekte gasheer en die vroue het ’n onvergeetlike oggend beleef.”



