Local news

Carpe Diem Kleuterskool wys hul hart vir karwagte

Die skool vorder nou verdere fondse in vir reënbaadjies en sambrele.

Carpe Diem Kleuterskool het onlangs hul nuutste gemeenskapsprojek van stapel gestuur.

Volgens die kleuterskoolhoof, Annelize Floor, het personeel opgemerk hoe die karwagte wat daagliks in die parkeerarea buite die skool toesig hou, in die winter in die koue bibber.

“Daar is van die wagte wat al jare lank hier diens doen en regtig uit hul pad gaan om ons ouers te help,” sê sy.

“Ons het gevoel ons móét iets doen om hierdie mense wat deur wind en weer dag na dag so behulpsaam is, te ondersteun.”

Annelize Floor en Jeancy Lemba.

Die skool het fondse begin insamel deur donasies en die opbrengs van pannekoekverkope, en die geld gebruik om vir elke wag ’n warm trui, dik sokkies, ’n mus, handskoene, hoed en baadjie aan te skaf.

“Ons het reeds vyf pakkies uitgedeel,” sê Annelize.

“Ons is nou besig om geld in te samel om, voor die aanvang van somer, reënpakke, sambrele en windbaadjies vir hulle aan te skaf.”

“Hierdie wagte lewer ’n goeie diens, en ons voel hulle verdien erkenning.”

Enigiemand wat belangstel om tot Carpe Diem se karwagprojek by te dra, kan vir Annelize kontak by Annelize.floor01@gmail.com of haar skakel by 082 568 4230.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button