Nathan Diedericks, ‘n elfjarige graad vyf-leerder aan Laerskool Dr Havinga, het onlangs ‘n uitsonderlike geleentheid gehad toe die Afrikaanse musiekster Elandré hom tydens ‘n vertoning by die Barnyard teater by Silverstar na die verhoog genooi het om die dromme te speel.
“Dit is die tweede keer wat ek saam met Elandré speel,” sê ‘n opgewonde Nathan.
Nathan en sy ouers, Hayley en Maryke, is groot aanhangers van Elandré en woon soveel as moontlik van sy lewendige vertonings by.
“Hy het ons begin herken en een aand tydens die groetsessie ná sy vertoning, het ons aan die gesels geraak,” verduidelik Hayley.

“Nathan het vir hom vertel dat hy dromme speel en dat hy besig was om, saam met sy drom-afrigter, die lied Eye of the Tiger aan te leer. By die volgende konsert het Elandré dit onthou en vir Nathan op die verhoog genooi om die lied saam met hom te speel.”
Voor Elandré se laaste vertoning by Silverstar het sy bestuurspan die gesin gekontak en aan Nathan ‘n uitdaging gestel: om ‘n lied van die kunstenaar se pasverskene album aan te leer en dit tydens die vertoning op die verhoog te speel.
“Ek was baie opgewonde,” sê Nathan. “Dit is nie ‘n baie moeilike liedjie nie, maar ek het hard geoefen om seker te maak dit is perfek.”
Behalwe vir dromme is Nathan ook ‘n talentvolle rugby- en aksiekrieketspeler, en neem deel aan Havies se Veldvriende-program.
Hy beoog om sy dromvaardighede verder uit te brei, en het onlangs by ‘n plaaslike musiekskool aangesluit waar hy reeds as dromspeler gekies is tydens hul jaarlikse groepvertoning by die Roodepoort Teater.



