Nuwe tuiste vir NG lede in Witpoortjie
Die sluiting van twee NG kerke in Witpoortjie het geen geloofsleemte veroorsaak nie; lidmate aanbid nou saam by die sentrale NG Culembeeck.
Die sluiting van twee prominente plaaslike Nederduitse Gereformeerde kerke beteken geensins dat daar ’n geloofsleemte in Witpoortjie ontstaan het nie.
Die NG Kerk Witpoortjie, gestig in 1957 op die hoek van Jan van Rooyenstraat en Corlettlaan, asook die NG Mindalore, gestig in 1973 by 32 Richardsonlaan, het hul laaste kerkdienste onderskeidelik in Mei en Oktober vanjaar aangebied.
Volgens ds Lamè Faasen, voormalige leraar van die NG Mindalore en huidige leraar van NG Culembeeck, was die sluiting van die twee gemeentes onvermydelik. Tog verkies sy om hierdie verwikkelinge as ’n geleentheid eerder as ’n tragedie te beskou.
“Dit beteken eenvoudig dat NG-lidmate uit die groter Witpoortjie-omgewing nou almal onder een dak by die NG Culembeeck saamkom en die Here dien,” sê sy. “Ons is steeds vasbeslote om ’n hoeksteen van die geloofsgemeenskap in Witpoortjie te wees. Ons is een in Christus en ryklik toegerus met gawes. Ons leef die groter spektrum van Christenskap ten volle uit.”
Faasen beklemtoon dat die NG Culembeeck, uit die drie geboue, die mees sentraal geleë en boonop beste onderhoude kerk is.
“Daar is oorgenoeg ruimte om die lidmate van al drie gemeentes gerieflik te akkommodeer.”
Die samesmelting van drie kleiner gemeentes beteken volgens haar verder dat die kerk nou sy broodnodige dienste meer effektief aan die gemeenskap en plaaslike skole kan lewer.
“Ons ondersteun steeds ’n wye reeks skool- en gemeenskapsinisiatiewe, insluitend voedingsprogramme by skole, gebedsgroepe en meer.”
Faasen sê die sluiting van die Witpoortjie- en Mindalore-gemeentes is grotendeels afgehandel.
“Heelwat van die bruikbare meubels en ander items is reeds hier gevestig.”
Sy voeg by dat sekere oortollige meubels en breekware steeds by die kerk te koop aangebied word.
“Daar is ook nog onopgeëisde as en gedenkstene van twee oorledenes by die NG Witpoortjie se gedenkmuur. Ons het alles in ons vermoë gedoen om met die families in verbinding te tree, maar hulle woon reeds vir jare nie meer op die opgetekende adresse nie.”
Enigiemand met inligting oor die families van Sarah Ferdinand Verhoef (oorlede op 2 Julie 2015) en Anna EM Botes (oorlede 8 November 2023), of wat weet hoe om hulle te kontak, word versoek om Faasen by kantoor@liveitchurch.com te kontak.
Faasen nooi die gemeenskap ook uit om die kerk se belydenisklasse en eredienste, onderskeidelik om 08:00 en 09:00 op Sondagoggende, by te woon.



