Schools

Groot skenking vir Havies in nood

Verskeie instansies het ter viering van Laerskool Dr Havinga se 71ste bestaansjaar bymekaargekom om 'n skenking vir Havies in nood te maak.

Die Noordelike Mossies, tesame met People of South Africa, Manna met Hulp, en die Suid-Afrikaanse Infanterievereniging, het op 16 April kragte saamgespan om aan behoeftige leerders by Laerskool Dr Havinga hulp te verleen en hoop te verkondig.

Dit is gedoen ter viering van die skool se 71ste bestaansjaar.

Volgens Mossies stigter Isabel Coetzee, is Laerskool Dr Havinga gekies om hulde te bring aan ‘n skool wat vir haar persoonlik help vorm het.

“In 1977, op sewejarige ouderdom het ons na Witpoortjie verhuis,” vertel Isabel. “Ek het uit ‘n klooster gekom waar ons net Engels gepraat het, en daar was in daardie tyd nie Engelse skole in die area nie.

Vise-voorsitter van die Suid-Afrikaanse Infanterievereniging, dr Stephan Maasdorp saam met die Noordelike Mossies stigter, Isabel Coetzee, medestigter van die Noordelike Mossies, Fred Nolan, en die medestigter van Manna vir Hulp, Stoney Steenkamp tydens Laerskool Dr Havinga se saalopening op 16 April.

“Die destydse hoof, mnr Botha, was die enigste plaaslike skoolhoof wat kans gesien het om my by die skool te aanvaar. Hy het my met ope arms verwelkom en my onder sy vlerk geneem.

“Ek is geboelie omdat ek ‘n goeie kop langer as my klasmaats was en omdat ek snaaks Afrikaans gepraat het. Mnr Botha het my beskerm, ‘n persoonlike belangstelling in my skoolopvoeding geneem, en letterlik my lig aangesteek,” vertel Isabel met verwysing na Laerskool Dr Havinga se leuse, LIG.

Dr Stephan Maasdorp behartig die saalopening met ‘n spesiale boodskap aan Havie-leerders.

“Ek is ten minste een keer per week na mnr Botha se kantoor geroep sodat hy met my kon gesels om te hoor hoe dit met my, en met my opvoeding gaan. Hy wou seker maak dat my lig nog brand.

“As dit nie vir Laerskool Dr Havinga en mnr Botha was nie, sou my lewe heel waarskynlik aansienlik anders uitgedraai het.

“Hierdie skool het my lig vir my moedertaal, vir sport en akademie, en vir die lewe aangesteek.”

Isabel Coetzee tydens haar getuienis oor hoe Laerskool Dr Havinga haar lewensbaan beïnvloed het.

Die saalopening is op die dag deur dr Stephan Maasdorp, nasionale vise-voorsitter van die Suid-Afrikaanse Infanterievereniging behartig, waarna 71 emmers, wat elk nie-bederfbare kruideniersware – genoeg vir ‘n gesin van vier vir sowat ‘n week – aan die skool oorgehanding is.

Die organisasies het ook 50 pare skoolskoene wat van herwinde materiaal vervaardig is, aan die skool oorhanding.

Related Articles

 
Back to top button