Schools

KYK: Leenboetiek maak matriekafskeid bekostigbaar

Hoërskool Florida se Matriekafskeid Leenboetiek is op die been gebring om te verseker dat geen leerder bekommerd hoef te wees oor die buitensporige uitgawes van klere vir hierdie spesiale dag nie.

Met matriekafskeidseisoen in volle swang, het Ethne Oelofse, die persoonlike assistent van Hoërskool Florida se hoof, met ‘n blink plan vorendag gekom en dadelik skouer aan die wiel gesit om haar visie ‘n werklikheid te maak.

“Jy sien elke jaar die opgewondenheid in die gesiggies soos die matriekafskeid nader kom, maar by sommiges sien jy ook ’n mate van versigtig versteekte vrees.

“Rokke, pakke, skoene, naels, hare, grimering, foto’s en al die gepaardgaande goed is vreeslik duur en dis nou maar ’n feit dat ouers diep moet delf om dit alles te kan bekostig.”

Ethne is self ’n ma van twee dogters wat nie te lank gelede nie self die uitspattige uitgawes wat met hul matriekafskeid gepaard gegaan het, swaar moes sluk.

“My dogters het ook ouer kêrels gehad, wat beteken het dat ek twee keer vir elkeen matriekafskeidrokke moes koop; een keer vir dié van die kêrels, en die volgende jaar vir hul eie.”

Ethne sê dit is vir haar hartverskeurend om jaar na jaar te moet toekyk hoe kinders bekommerd is oor hoe hulle matriekafskeidonkoste gaan baas raak.

“Ons het by vriende gekuier en terloops daaroor gesels, toe die man opmerk dat sy duur wol-troupak nou al 20 jaar in sy kas hang. Daar en dan het die idee by my opgekom om ‘n matriekafskeidleenboetiek by die skool te begin.”

Ethne het met die hoof hieroor gepraat en hy het dadelik ingestem.

“Met die hulp van my dogter het ek ‘n klein sosiale media-plasing uitgestuur waarin ek gevra het vir klereskenkings en die reaksie was onmiddellik en oorweldigend. Mense het die mooiste rokke, pakke, skoene en selfs juwele geskenk.

“Een van ons departementshoofde het selfs tydelik hul kantoor aan ons afgestaan van waar ons nou die leenboetiek bedryf.”

Ethne en haar man het dadelik aan die werk gegaan en die kantoor opgeknap, ‘n paar rakke geïnstalleer en selfs ‘n paar mannekyne gekry om die kantoor soos ‘n regte boetiek te laat lyk.

“Leerders is welkom om die boetiek te besoek en ‘n uitrusting te kies. Ons vra ‘n klein deposito, wat die leerder terugkry wanneer die items onbeskadig terugbesorg word.”

Ethne sê sy was oorweldig toe sy sien hoe gewild die boetiek is.

“Ander skole het selfs nou uitgereik om te hoor of hul leerders ook die boetiek mag gebruik, wat natuurlik heeltemal in orde is met ons.”

Enige leerder wat graag van die Hoërskool Florida Matriekafskeid Leenboetiek gebruik wil maak is welkom om vir Ethne by die skool te kontak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button