Havies rassisme: Ondersoek in gevorderde stadium
Die ondersoek na beweerde rassisme by Laerskool Dr Havinga is volgens die Onderwysdepartement byna afgehandel.
Die Onderwysdepartement sê hul ondersoek na beweerde rassisme by Laerskool Dr Havinga is in ’n gevorderde stadium en dat enige verdere stappe deur die uitkoms van die ondersoek bepaal sal word.
Volgens die departement se woordvoerder, Steve Mabona, word daar intussen voldoende ondersteuning aan sowel die leerders as die personeel van die skool verskaf.
“Ons psigo-sosiale en werknemerwelstandspanne is reeds by die skool ontplooi om enige nodige hulp te bied,” sê hy.
• Lees ook: ‘Dis bog,’ sê ouers oor beweerde rassisme by Laerskool Dr Havinga
Mabona beklemtoon dat die departement, ondanks die aard van die bewerings, toegewyd is daaraan om te verseker dat onderwysers en ander personeellede se regte te alle tye beskerm word.
“Onderwysers is sentraal tot die effektiewe funksionering van, en leer en onderrig by, ons skole. Dit bly egter ons verantwoordelikheid om enige beweringe van wangedrag teen personeel deeglik te ondersoek en gepas op te tree indien sulke beweringe meriete het.”
Rakende die Roodepoort Record se vrae oor persepsies dat die departement bevooroordeeld optree in gevalle van beweerde rassisme, sê Mabona dat alle redelike stappe gedoen word om te verseker dat werknemers regverdig behandel word.
• Lees die oorspronklike artikel hier: Bewerings van rassisme by Havies ondersoek
“Enige werknemer wat kan bewys dat hulle onregverdig deur die departement behandel is, kan die Onderwys-arbeidsverhoudingerraad nader. Onafhanklike arbiters word dan aangestel om die saak te ondersoek en op die meriete daarvan te besluit.”
Intussen het verskeie ouers van graad 7-leerders verlede week hul ondersteuning vir die tydelik verwyderde onderwysers en hoof betuig en die beweringe van rassisme as ongegrond afgemaak.



