Kyk: Hories-juffrou vat die koek!
Juffrou Kayleigh het meer as 12 000 ander deelnemers uitgestof om die titel te vat.
Laerskool Horison het vanjaar op alle vlakke ’n meteoriese jaar beleef en prestasie na prestasie ingepalm.
Volgens die skool se skakelbeampte, Maria-Lise Pieters, is die “juweel in die kroon” egter dié keer nie afkomstig uit die talle begaafde leerders nie, maar uit die onderwyskorps self.
“Dit maak ons eindeloos trots om aan te kondig dat graad 1-onderwyseres Kayleigh Bell pas gekroon is as Solidariteit se Onderwyser van die Jaar in die laerskole-afdeling,” sê sy.
Die aankondiging is verlede Vrydagoggend, 7 November, tydens ’n spoggeleentheid gemaak.
“Juffrou Kayleigh het kop en skouers bo 12 000 ander inskrywings uitgestaan om hierdie gesogte toekenning te verower,” sê Pieters.
“Onderwysers kry dikwels nie genoeg erkenning vir hul harde werk en toewyding nie, en ons is trots dat een van ons eie hierdie eer kon ontvang.”
In sy lofprysing tydens die oorhandiging van die toekenning het Solidariteit-netwerkorganiseerder Tiaan Schoeman gesê haar onderwysfilosofie – dat ‘’n kind nie altyd gaan onthou wat ’n onderwyser sê nie, maar nooit sal vergeet hoe ’n goeie onderwyser hom of haar laat voel nie’ – het ’n groot rol in haar oorwinning gespeel.
“Ons as skool is ongelooflik trots op juffrou Kayleigh met hierdie merkwaardige prestasie,” het Pieters afgesluit.



