
Dit was nog altyd vir my baie lekker om my twee dogters se gesigte te sien wanneer ek ‘n Afrikaanse idioom gebruik. Die totale onbegrip en verwardheid sorg dat daar gereeld ‘n groot glimlag op my gesig is.
Die rede hiervoor is baie eenvoudig. Ek is ‘n Afrikaner in murg en been, en ons het groot geword met die mooiste (en soms snaaksste) idiome, gesegdes en uitdrukkings. My ma beskik oor ‘n groot hoeveelheid van hierdie juwele, en dit was nie snaaks om van hierdie pragtige idiome in ons huis te hoor nie. Ek het groot geword met uitdrukkings soos ‘Jakkals trou met Wolf se vrou’, ‘Liefde is blind, maar trou is die bril’, ‘Dit reën katte en honde’ en nog vele meer.
My eie gunstelinguitdrukkings (wat al vir heelwat konsternasie in my eie huishouding gesorg het!) sluit in, ‘Hoekom sit julle soos ‘n uil op ‘n kluit?’ en ‘Mosterd na die maal’. Ek moes ook al ‘n paar maal vir my dogters die betekenis van sekere idiome en uitdrukkings verduidelik, aangesien hulle nie regtig meer hierdie tipe goed geleer word nie.
Dit is vir my hartseer dat die jonger generasie nie ‘n benul het van hierdie aspekte van Afrikaans het nie. Na my beskeie mening en in alle eerlikheid, sal dit daartoe lei dat Afrikaanse idiome en uitdrukkings die onderspit delf.
Ek het hierdie waarheid weereens besef toe my jongste dogter na haar Afrikaans-matriekeindeksamenvraestel vir my oor ‘n spesifieke idioom, wat in die vraestel voorgekom het, kom vra het. Die idioom het gegaan oor die woord ‘kole’ en hoe jy dit sou gebruik wanneer mense baklei/ of kwaad vir mekaar is, en, tot my bittere spyt, kon ek nie aan die idioom dink nie!
Dit het tot die gevolg gehad dat ek ‘n bietjie navorsing gedoen het, en ek wil graag ‘n paar idiome, wat dalk al vergete is, deel:
• as die muis vol is, is die meel bitter
• boontjie kry sy loontjie
• die kool is nie die sous werd nie
• die vere maak die voël
• te diep in die bottel kyk
• gou op jou perdjie
• haastige hond verbrand sy mond
• klein muisies het groot ore
• krokodiltrane huil
• so skaars soos hoendertande
• so warm dat die kraaie gaap
• soos ‘n vis op droë grond
• soos water op ‘n eend se rug
• trou is nie perdekoop nie
• twee vlieë met een klap slaan
• vetgesmeerde blits
• van bakboord na stuurboord
Hoeveel van hierdie idiome/ uitdrukkings se betekenis ken jy? Is daar dalk idiome/ uitdrukkings wat jy gereeld gebruik? Ek sal graag van ons lesers wil hoor! Stuur vir my ‘n epos na roodepoortrecord@caxton.co.za.
Tot volgende week, bly veilig en kyk uit vir mekaar …



