Jong ruiter laat die koppe draai
Volgens haar ma het Monja op die ouderdom van vier begin ry, en was nog nooit spyt nie.
Laerskool Roodekrans se Monja Wagenaar het onlangs aan die Sanesa (South African National Equestrian Schools Association) Interskole Q1 Perdrykompetisie deelgeneem waar sy talle koppe laat draai het.
Dié passievolle agtjarige het op Saterdag, 5 Februarie nie net haar skool verteenwoordig nie, maar ook die Roly Studs Equestrian Centre. Monja en die ryskool se ponie, Roly Onez het die volgende prestasies behaal:
• Dressage Test A – Derde plek
• Dressage Test B – Eerste plek
• Working Riding – Eerste plek
• Performance Riding – Eerste plek
Volgens haar ma, Tertia Wagenaar, het Monja op die ouderdom van vier begin ry, en was nog nooit spyt nie.
“Ons het haar perdylesse laat neem omdat haar kleuterskool gedink het sy kort ekstra stimulering. Haar eerste les was behoorlik vreesaanjaend. Sy het heeltyd pappa se hand vasgehou, terwyl hy langs die perd moes loop. Die ponie se naam was Bazzle,” het sy vertel.
Van daar af was die koeël deur die kerk. Monja het deesdae haar eie ponie, Roly Little Dipper – ‘n 10-jarige volbloed Welsh. Alhoewel sy baie lief is vir die ponie, help sy graag om die ryskool se ponie (Roly Onez) te skool. Dié is ‘n sesjarige Welsh-kruising waarmee Monja ‘n spesiale verhouding ontwikkel het.
Een van haar grootste prestasies tot dusver was toe sy en haar ponie verlede jaar die Horse of the Year Kampioenskappe se Pure Bred Welsh-afdeling gewen het. Sy sien uit na die Horse of the Year 2022-kompetisie op Woensdag, 2 Maart waartydens sy met onderskeidelik Roly Little Dipper en Roly Onez gaan deelneem.

Daarna sal Monja op 6 Maart aan die Sanesa Interskole Q2-kompetisie deelneem.
“Ek hou van perdry want ek hou van die uitdaging. Ek geniet ook die buitelug en die vryheid wat dit my gee. Dit leer my boonop om onder druk te funksioneer en gee uitstekende balans. Ek is nog altyd baie lief vir diere, maar ek weet ook dat dinge nie altyd goed gaan nie omdat mens met ‘n lewende dier werk,” het sy vertel.
Monja se passie is om te help om die perde te skool. Sy droom daarvan om eendag ‘n Olimpiese Showjumper te wees, asook ‘n veearts.



