Local newsNews

Die Woord van God is hierin ons kompas

Die Kerk se gemeente bedien inwoners en besoekers vanaf Ifafa in die noorde tot so ver as Kokstad in die binneland.

VOOR 1972 was die huidige Suidkus-gemeente (toe genoem Margate) ‘n wyk van Durban en dienste het in die ou stadsaal van Margate plaasgevind. Tot 1981, toe die nuwe kerk in gebruik geneem is, het dit dikwels gebeur dat die saal eers op ‘n Sondagoggend “skoongemaak” moes word (drankbottels, glase, ens) voordat die diens kon begin!

Op Julie 2, 1972 het ons afgestig van Durban. ‘n Kanselbybel met die handtekeninge van sommige van die sowat 90 destydse gemeentelede, asook ‘n kort opsomming van die geskiedenis, is tans nog op die kansel. Ds A le R du Plooy het hierdie gemeente, wat uit vyf wyke bestaan het, bedien. Ds Postma van Pietermaritzburg het die dienste tydens die afstigtingsgeleentheid waargeneem. Die huidige leraar, Ds Garrie Schutte, is die negende predikant van die gemeente.

Na ‘n aanbod van die NG Kerk in Port Shepstone in 1981, is die prinslike som van R110 000 betaal vir die huidige kerkgebou en op September 1, 1981 het ons die eienaars van die kerk geword. Die kerkgebou is amptelik op Saterdag, November 14, 1981 in gebruik geneem. Die oorsponklike gebou is in 1953 voltooi en in 1972 vergroot deur ‘n galery aan te bring. Later is ‘n saal aangebou, asook verbeterings aan die moederskamer en toilet-fasiliteite aangebring en dit is amptelik op November 14, 1999 in gebruik geneem.

Ons gemeente (160 belydende lidmate) bedien inwoners en besoekers aan die Suidkus van Natal vanaf Ifafa in die noorde totby Port Edward in die suide, asook totsover as Kokstad in die binneland. Ons lidmate se ouderdomme strek tussen twee jaar en 93 jaar en ons is baie trots op hierdie seniors wat nog so ‘n belangrike rol in ons gemeente speel.

Ons streef daarna om Jesus se liefde teenoor almal uit te leef, ander te dien en die Here gelukkig te maak. Ons spits ons daarop toe om nog dissipels van Jesus te maak, deur die krag van die Heilige Gees gelowiges sinvol te bedien en as God se kinders elkeen ons plek vol te staan. Die Woord van God is hierin ons kompas. Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika is tans besig met ‘n omvangryke omkeerstrategie in die lig van dalende getalle en gebrek aan uitreik. Ons gemeente ondersteun hierdie aksie en beywer hul om dit ‘n werklikheid te maak, ook in ons gemeenskap.

As deel van ons doelwit om ander dissipels van Jesus te maak, is daar in 2012 begin met die opleiding van leke-predikers, veral in die Zoeloe- en Xhosa-sprekende gemeenskappe. Hierdie predikers het al almal kleiner of groter gemeentes bedien (tussen 100 en 750 lidmate per gemeente), maar word gekortwiek deur hulle beperkte kennis van die suiwere Woord. Die opleiding word gedoen via die afstandsonderrig van Mukhanyo Teologiese Kollege, wat by die Teologiese Skool van NWU geaffilieer is.

In 2012 is daar met vyf studente en een deeltydse opleier begin. Tans is daar 25 studente en vanaf Maartmaand, ‘n voltydse opleier. Die Here het werklik vir ons die deure oopgemaak en voorsien daagliks in ons behoeftes in hierdie verband, aangesien ons grootliks van donasies afhanklik is vir hierdie omvangryke projek. Ander uitreikaksies is ons maandelikse Engelse diens en daar is ‘n groepie susters wat op ‘n weeklikse basis ‘n godsdienslessie aanbied by Merlewood kleuterskool.

As gemeente in ‘n vakansie-bestemming is ons ook natuurlik bevoorreg om gedurig besoekers te ontvang en veral gedurende die wintermaande is daar altyd heelwat ‘swaeltjies’ wat vir ‘n maand of twee hulle tuiste by ons maak en dan ook sommer deel word van ons gemeente. Dan kan ons natuurlik nie vergeet van pannekoekbak tydens die Margate mardi gras nie. Dit is nie net ‘n fondsinsamelingsaksie nie, maar tussen die harde werk deur is daar tyd vir bande smee, ou bekendes raakloop en lag en gesels. ‘n Ander aksie wat terselfdertyd dien as fondsinsameling, en ook hulp aan ander, is ons rommelverkopings die eerste Vrydag van elke maand.

Die Alikreukels (60 en ouer) se maandelikse byeenkomste sorg vir ‘n goeie dosis lag, nostalgie en geestelike versterking. Die gereelde Bybelstudies verbreed nie net ons kennis nie, maar bou ook geloofsbande. Die sustersaktiwiteite – van poedingverkope tot ondersteuningsaksies, loop soos ‘n goue draad deur ons gemeentelewe. Die verskillende diensgroepe versterk onderlinge meelewing en verleen hulp waar nodig. Ons kerksaal word ook gedurende Junie en November gebruik as eksamenlokaal vir Intech en Damelin. Op Mei 31, gaan dit ook weer feestelik getooi word vir ons jaarlikse basaar. Gaan kyk gerus by www.gksuidkus.co.za vir meer inligting oor ons gemeente of kontak Ds Garrie by sel 084 581 3999.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button