Setpil-instruksies is kritiek-belangrik
Niks in die lewe bring groter vreugde vir ’n moeë Kaapse vis-en-hoendereter as ’n langnaweek in die Vrystaat nie.
Vroulief en ek was vir ses dae nie in die Watergat nie weens ’n familieverpligting in Gauteng. Oom Pottie rapporteer alles gaan goed daar, en stel voor ons wy die rubriek aan ’n besonderse storie wat hy weer by ’n besoeker gehoor het: Ene Dawie en sy gesin uit die Kaap gaan kuier oor ’n langnaweek vir familie in die Vrystaat.
Hulle eet net vleis – niertjies vir ontbyt, skaaptjops vir middagete, biefstuk in die aand. ’n Gebalanseerde ete by die familie was ’n skaaptjop in elke hand. Niks in die lewe bring groter vreugde vir ’n moeë Kaapse vis-en-hoendereter as ’n langnaweek in die Vrystaat nie.
Die oggend-, middag- en aandvleisvure brand hoog en die vet drup van die vakansiebaarde af. Ná die naweek, na nog ‘n welige ontbyt (met skaaptjops) word die langpad aangedurf (met skaapboud-toebroodjies vir padkos). Teen amper halfpad trek die son sy lang skadus oor die uitgestrekte Karoo. Drie Susters is agter hulle, en skielik voel Dawie sy regtervoet voel nie lekker nie.
’n Massiewe pyn skiet sy regterenkel binne. Dit moet ’n beroerte wees. As sy hart in sy skoen was sou hy sweer dit is hartaanval. Die pyn neem alles oor. ‘Bel net die dokter!’ is al wat Dawie uitkry en trap die petrol al dieper in met sy linkervoet. Sy vrou bel hul geliefde huisdokter uit sy Sondagmiddagslapie uit. Dokter vra hieroor en daaroor en waar die pyn is en of daar enige rugbybeserings is aan daai voet. Dan ’n lang stilte. Hulle albei verwag die ergste.
‘As dit ’n voetpyn is, julle het die en daai geëet en daar is geen koors nie, die pyn ‘loop’ nie, dan dink ek dit is ernstige jig,’ kom die kort selfoondiagnose. Pynpille in die motor? Ja, net een van 100 gram, maar dis ’n setpil wat dateer uit vroulief se verlede. Hulle druk deur tot op Beaufort-Wes, maar Sondagaand is die noodapteek reeds toe.
Op Leeu-Gamka gee Dawie bes, vat die setpil by sy vrou en bestorm die kamerverlaat by die vulstasie. In een van die toilette vat hy die pilletjie vas, en doen dit. Snaakse deel van ‘n mens se liggaam, dink Dawie. Jy druk en forseer, dan gryp hy hom by jou soos ’n stofsuier.
Weer op die langpad, die kinders slaap snoesig in hul stoeltjies, maar Dawie se oë bly groot. Sy vrou vra of dit beter gaan. ‘Nog nie’, antwoord hy. ‘Dis darem ’n skerp pilletjie daai’. ‘Hoe so?’ vra sy vrou.
‘Ek bedoel die aluminium om die pil. Ek moes dit hoeveel keer buig om die skerp rantjies weg te kry’, verduidelik Dawie.
Sy vrou stik van die lag. ‘Jy moes die omhulsel afgehaal het!’ Dawie se verleentheid is erg. ‘Maar ek dog dit werk soos ‘n kapsule, jy breek dit mos nie oop nie!’
Uiteindelik haal hulle die Kaap, voetpyn en al, en intussen het Dawie se vrou al hul vriende reeds gebel met die storie.
Die volgende dag op kantoor wou almal weet of hy nou ’n ‘stainless steel’- knaldemper het. ‘Het die setpil gewerk?’ wil die mense weet. ‘Weet nie,’kom die skaamkwaad antwoord. ‘Ek sal moet wag dat die omhulsel wegroes.’
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Fever’s Facebook page
