VERLEDE Donderdag het ‘n honderd en dertig bonsende tieners (vanuit sewe skole) op Hoërskool Suid-Natal toegesak vir hul jaarlikse landsdiens areakamp.
Die somer weer was perfek vir swem, speletjies, konsert hou, strand skoonmaak en sandkastele bou. Vir handvaardigheid het hulle geleer om hempies te versier.
Geluk aan Micaela Comins en Stian Vermaak wat as groepleiers kon optree. Stian is ook as seuns-kampleier gekies.
Opregte dankie aan Nicolet Schütz wat haar ‘laaste’ energie moes tap om ‘n wonderlike kamp aan te bied, onderwyser Bennie Oosthuizen vir die ‘sielevoedsel’, asook Joan Saayman en familie wat die kampgangers met smullekker kos bederf het.
Suid-Natal se seniorspan het onlangs aan die EG Jansen se semi-finale rondte in Durban deelgeneem. Baie geluk aan die twee deelnemers, Carla du Plessis en Charné Pretorius, wat deurdring na die finale rondte op 26 Maart in Durban.
Komende gebeure: Maart 28: skole sluit; April 3 tot 5: Margate Sportskool netbalkliniek; April 5: KZN Landloop League 1 (Westridge); April 7: Skole heropen.

