MET die uitmuntende ondersteuning van die gr 2 mammas, pappas, oumas en oupas, kon Suid-Natal Primêr se markdag nie anders as suksesvol wees nie. Baie dankie aan almal, asook die maats wat so goed ondersteun het. Met die goeie opbrengste, kan die skool nou baie nodige hulpmiddels vir klasse aankoop.
Gr R leerlinge het ‘n ‘beroepsdag’ gehou en elke leerling moes aantrek volgens sy ideale beroep, van dokters tot ingenieurs. Te oordeel aan die uitrustings het SNP baie ambisieuse leerlinge.
Dieetkundige Linda Stack het tydens ‘n Afrikaanse belangegroep-vergadering die skool personeel toegespreek. Onder bespreking was gesonde eetgewoontes vir volhoubare energie, die effek van suiker op leerlinge se konsentrasie, asook gesonde kosblikke. Goeie wenke en idees is uitgeruil.
Weereens herinner die skool al die voornemende gr R ouers aan die opedag op 12 Augustus waartydens inskrywings vir 2015 sal plaasvind. Kontak gerus die skoolkantoor vir meer besonderhede.

