Toe die laaste vervyfskop rakelings verby die linker regop paal trek, bring Hennie sy uitsoek Cabernet te voorskyn. Ons plaaslike span is nou die derde keer agtermekaar die liga kampioen, kondig hy aan terwyl die kurktrekker sy woorde beaam. Net een punt het die uitslag beklink, geluk ook aan die manne wat daai punt geshort het. Om alles te kroon was ons span se sege die hoofvoorwedstryd tussen die Rooibontes en die Ligbloues.
Hierdie titaniese stryd sou ook wipplank ry tot in die doodsnikke… Die Rooibontes se ster losskakel trek los met ’n torpedo lynskop uit sy kwartgebied. Aan die oop paviljoen kant vladder Naas se blonde kuif agter die bal aan. Hy haal hom so wragtag uit die lug voordat die wedstryd verseël is met hierdie akkuraat gemikte lynskop. Met al die tyd tot sy beskikking pypkan Naas die baljagters wat op hom afstorm. Nou trippel hy soos ’n skouperd tot binne die Rooibontes se halfgebied en kry sy hoek reg, so tien meter van die kantlyn. Hier sien ons Naas weer op sy aller beste.
Meer as helfte van Ellispark kyk weg in afgryse. ’n Stoere Transvaal-ondersteuner prewel in sy baard: skop nou die blerrie bal en kry klaar man. Dis presies wat die Springbok losskakel toe doen en sit die eier deur die mikke; die skare is tioepstil toe die eindfluitjie blaas. Tot vandag toe bly hy ’n Naas ondersteuner. Hennie, of te wel Kontani, was onbewus dat Neels van die Jakarandastad kom.

LEES MEER OOR DIE LORRIESMOUS HIER
Daar kon net een Kontani wees, ’n netjiese ‘ladies man’ met skerp, helder blou oë. Sy welige kuif en uitgedraaide snor in die Nguni horing formaat was ryp koringkleur. Hy was ’n fyn besigheidsman wat in die regte kringe beweeg het. Kontani was vol gemaakte draadwerk toe hy sy eerste nuwe perd by Neels bestel. Sy dosyn grootte vloot was aan die kruppel kant en was hoofsaaklik uitgediende fabrikate; Henchell, Magirus Deutz en om die kroon te span, ’n geroeste Mandator. Die gewone lorriesmouse het draaie om Kontani geloop.
Vir Neels was Kontani net nog ’n bonkige derduiwel op vaskop. Sy balansstate was eina en sy oortrokke bankrekening soms oor die limiet. Sy kredietverwysings was onbestendig. In sy guns was sy uitsonderlike kontrak en die instandhouding daarvan oor meer as ’n dekade, ou lorries of te not. Kontani se aura was oorweligend. Sy modus operandi was identies met elke dame, jonk of besadig; skuif geruisloos nader met sy oë stip op die prooi en steek sy hand ongesiens uit. Asof gehipnotiseerd trap die prooi in sy wip en neem haar hand baie galant en in dieselfde beweging plaas hy ’n veelseggende kus op die hand. In sommige gevalle uit erkenning, met twee of drie encores op die pols. Kontani was gereken as die galante heer in die distrik.

Kontani is uit die bloute verwittig van uitbreidings in sy kontrak. Die fabriek het uitvoerregte bekom en duisende tonne verwerkte agrigaat was bestem vir Rusland. Daarom sit ek vandag in jou kantoor, ek moet ses nuwe dertig tonners op die pad sit en Gousie by die bank kan net twee finansier. Neels, net jy kan plan beraam. Hier is al die inligting en dokumentasie wat jy nodig het. Moenie rondtjommel nie, oor ses weke moet die wiele rol, was sy ferm aansporing met sy wegstap vir die naweek. Die hele naweek werk Neels onverpoosd deur die syferwerk. Hy hou voet by stuk, as die projek nie aanloklik- loënend blyk te wees nie, doen hy nie die transaksie nie. Met hierdie kontrak skeel daar niks nie. Die termyn is vyf jaar met die opsie om te hernieu. Die laai- en aflaaitye is 24/7 sonder enige lang toue vragmotors om produksie te versuur. Die vervoertarief of te wel verdienste per ton/km is presies soos Kontani dit beskryf het: top notch! Maandag more vroeg wag Neels vir Abie Goldstein in met die netjiese voorlegging in sy portefeulje. Uiteindelik kry selfs Abie ’n glinstering in die oog veral toe Neels die dubbelsyfer winsmarge op die transaksie verduidelik.

Abie krimp ineen toe Neels die finansiering-proses aan hom voorlê. Hy kyk Neels ongeloofbaar in die gesig en prewel onderlangs: jy wil dus hê ek moet Kontani van alle mense finansier vir vier dertig tonners en die Bank doen net twee! Is ek dan sterker as die Boerebank? Nie sterker nie Abie, net baie slimmer. Die winsberekening wat ek geprojekteer het, sluit nie die finansiering wins in nie. Die wins op die lening is amper gelyk aan wat ons op die hardware maak.
Ek gaan Kontani ook vasknoop met tweede verbande op sy onroerende eiendomme. Die kersie op die koek is Kontani se vyf karaat suiwer wit diamantring wat hy net op spesiale geleenthede vertoon. Nou raak Abie se tong los: bring my die blinke dan praat ons verder. Neels laat nie duwweltjies onder sy voete groei nie en skakel Kontani dadelik. Hulle afspraak is vanaand op die Riviera se terrasse op die rivier. Neels is verseker dat Kontani die suiwer blinksteen vanaand sal aanhê.

Neels het kwalik plaasgeneem toe Kontani hom vanuit ’n blinde hoek op die skouer klop. Hulle kyk mekaar stip in die oê. Neels is ’n meester in die spel van afwagting, tydsberekening is die sleutel om sukses te verseker. Neels breek die ys: kom ons maak soos James Bond en begin met ’n droë Martini met ’n klein versoekie van Abie, die Jood met die geld. Wat wil Abie hê, vra Kontani. Kom ons praat eerder oor my vier nuwe trokke. Dis waaroor dit juis gaan, stel Neels hom gerus. Sy woorde was nog nie koud nie toe staan die twee Martini kelke voor hulle. Neels raak ernstig en met afgemete reëlmaat versoek hy Kontani om sy sierlike diamantknoets in Neels se Martini te plaas.
Dit is Abie Goldstein se versoek. Kontani geniet die spel en plaas sy kosbaarheid sagkens in Neels se Glas. Daarmee lig hulle elmboog en klink die glasies, tjorts! Neels verduidelik sistematies aan Kontani op welke wyse sy transaksie geformuleer en uitgevoer gaan word, presies soos hy Abie ingelig het. Kontani is uit die veld geslaan. Hy verstaan net nie Abie se versoek met sy ring in die Martini kelk nie. Neels verduidelik dat diamante in ’n Martini kelk besonder flits.

Neels tel sy kelk op en trek hom verby Kontani se oog. Blikkers, hoe verblind die knerts uit die Kongo my nou. Jare gelede het hy hierdie knewel, toe nog ongeslyp, by ’n Belgiese huursoldaat gescore. Die slyp en setwerk in platinum is deur ’n Lebanees in Booysens geskep. Nou is dit Neels se oomblik om die uitklophou te plaas. Abie is bereid om jou vier dertig tonners te finansier, sonder deposito, met jou ring as sekuriteit.
As jy die lorries afbetaal het, kry jy jou ring terug. Kontani tuur oor die rivier, hy mompel onhoorbaar. Hy kyk Neels loodreg in die gesig terwyl ’n traan oor sy wang biggel: Jy het my, die Jood en die Bank uitoorlê met jou demoniese plan. Waarom ek en jy daardie verdompde dag op Ellispark langs mekaar gegooi is, is net so erg toe Naas daardien drop deurgesit het. Soms wonder ek of jy ’n Naasman is. Iedergeval, ek het nie ’n keuse nie, vat die ring en sluit hom toe in die Bank. Onthou net, niemand sit hom aan enige vinger nie. Dis my ring alleen, haar naam is Lady.

’n Week voor Kontani se kontrak begin, lewer Neels die ses nuwe pragstukke af. Hulle vertoon prentjie mooi langs Kontani se Kaaps-Hollandse opstal neffens die Suikerbosrivier. Die plaaslike koerantman neem fotos en selfs die Burgemeester het kom spiets afsteek. Daarna slaan Kontani die sjampanje te pletter teen die voorste perd se bosbreker. Abie slaan amper dood neer toe hy die weerlig blits op Kontani se vinger gewaar. Neels moes mooi verduidelik dat hy hierdie ooreenkoms met Kontani gemaak het; vir oulaas kon hy spog met Lady wanneer hy die sjampanje breek.

Hannes van der Westhuizen was born, raised and educated in Pretoria. He tried varsity, did not like it and took up a job with Lever Brothers.
A colleague suggested they try being salesmen after reading a newspaper ad. On his first assignment, Hannes managed to get a large corporation in Kimberley to buy calculators and once he was handed his first commission cheque, he was hooked on sales.
Hannes was head-hunted by a truck sales company and was completely smitten. He and his proper love, wife Elma, retired to Anerley where they enjoy being beachcombers.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
For news straight to your phone, add us on WhatsApp 082 421 6033
