Die Vaaldriehoek lê wyd van Meyerton en sy omstreke tot oor die Vaalrivier by Sasolburg in die Vrystaat. Hier het Neels kamp opgeslaan vir langer as dertig jaar. Sy afsetgebied het menige sake sektore gedek. Sy teiken was meestal gerig op die medium na klein ondernemings. Op hierdie gebied kon hy direk met die eienaar of besturende direkteur hare kloof. Met die groot korporasies was die transaksies onpersoonlik of teen ‘n voorafgereëlde ‘ooreenkoms’ wat teen Neels se grein geloop het.
Die transportmanne en Neels was spelers in dieselfde span. Hulle passie was die reuk van diesel en die brute krag van die vyftigtonner in kombinasie massa. Tog was daar ‘n uitsondering op hierdie voorgeskrewe ritme. Heel onverwags loop‘n siviele ingenieur Neels se kantoor binne om ‘n afspraak te reël op hulle fabriekperseel in Meyerton. Hulle vervaardig betonprodukte vir hoofsaaklik padkonstruksie en –instandhouding en worstel met lang afstand aflewering.

Hierdie jong ingenieur met dikraambril is vlymskerp en is een van drie direkteure by die betonfabriek. Hy is in beheer van die verkryging van tenders en die ontwerp en spesifikasie van beton kolomme, randstene, afvoergeute en vangputte in die vervaardigingsproses. Sy ouboet en neef is die dryfvere in die fabriek. Drikus Bester vertel Neels van hulle groeiende kopseer om hulle produkte oor afstande af te lewer. Die transportmanne se tariewe raak onbekostigbaar en dan is hulle skedule wispelturig. Daarom sit jy nou hier by ons om die ronde raadstafel. Sal dit voordelig wees om ons eie dertigtonner aan te skaf? Ek gee jou al die inligting van ons operasie en dan kom jy met die regte oplossing.
Neels haal die ammunisie uit sy aktetas en kry twee folios van Drikus wat gelaai is met afmetings en massa van die betonprodukte, asook afleweringsroete en afstande na afleweringspunte. Dis nou tien-uur, ons is om elfuur terug en tot dan laat ons jou in vrede met jou berekenings, daag ouboet Peet vir Neels met ‘n grinnik. Sonder om selfs op te kyk val Neels in dat die rook draai. Hierdie oefeninkie is sy kos, soos gekerfde rooiribbokram biltong. Na veertig minute se kruis en dwars maneuvers strek Neels hom behaaglik uit in die luukse leersitplek.
Hy tuur na die Pierneefmeesterstukke op die oorkantste muur met die oopswaai van die tambotie deur. Drikus bieg dat hulle driestuks vir Neels op kringtelivisie dopgehou het.
Manie, die forsgeboude neef met die blaasbalkstem is aan die woord. Vertel ons hoeveel gaan ‘n nuwe dertigtonner ons kos? Neels het die gepaste antwoord: Die aankoopprys van die nuwe voertuig is nie ter sprake nie. Wat wel van belang is vir julle voortgesette suksesvolle bedryf, is die globale besparing op julle huidige vervoerkoste met gepaardgaande beheer en beskikbaarheid om julle eie lorrie te besit. As voorbeeld het ek julle onlangse dertig ton afleweringskoste na Ellisras vergelyk met die geprojekteerde totale koste van hierdie nuwe dertig-ton kombinasie.

Die direkteure bestudeer die uiteensetting van die koste berekening en gooi amper gelyk hande in die lug. Drikus is aan die woord: Neels, jy laat ons g’n keuse toe nie; haal maar jou orderboek uit. Tot hul verbasing het Neels alreeds die bestelling voltooi, gereed vir ondertekening. Nou is dit weer ou dik Manie se beurt: Ons moet jou komplimenteer met die puik aanbieding en deeglike aanwending van die spesifikasiekennis van jou beroep. Daarom is ek verseker dat ons enigste vereiste om ons fabriekvoertuig in te ruil, nie in ons bestelling se pad sal staan nie. Hy staan die laaste drie maande onder seil in my skuur, ek het die perdjie van my pa ge-erf. My plaas lê teen die dorp; jy wil hom seker in lewende lywe valueer.
‘n Kwartuur later word die seil voor Neels af getrek en die perdjie start sonder om te karring. Soos jy kan sien is die Mandator nog reg en sonder roes. Ek het al sy papiere en sy laaisens is op datum. Neels is stom geslaan. Wat gaan sy kollegas in die bedryf sê as hy ‘n Leyland inruil? Die Engelse fabrikaat is al meer as tien jaar van die mark af! In weerwil van logiese denke besluit Neels tog om die gewraakte Mandator in te ruil. Hier lê ‘n titaniese vaskopstryd in sy pad en sal sy rug koeëlreguit moet bly. Op pad terugkantoor toe, staal Neels hom vir sy kollegas se reaksie en loer vir homself in die tru-spieël. Sy oë blits helder blou en uit sy borskas grom die vasberade dierasie.
Neels is gebore vir groot uitdagings.
Na twee maande wei die Mandator perdjie nog rustig en effens verskuil tussen die plaas implimente van die landbou-afdeling. Dis juis Koos Bierman se veld en hy brom onderlangs oor die Leyland petalje toe Neels effens later as gewoonlik opdaag. Neels kyk skuins verby hom en maak gemaklik keelskoon: Hierdie maand gaan die Mandator groet. Abie deel Neels se optimisme en stel voor dat hy die Morewear leunwa by Basie Viljee gaan haak omdat hy vier maande gelede ophou betaal het. Koos wil nog wal gooi want Basie is sy kliënt, maar Abie hou voet by stuk. So gesê so gemaak.

Na twee dae is die Morewear terug op voorraad en bly gekoppel aan die Mandator. Mens sou sweer hulle het skielik verloof geraak! Plotseling gaan die son helder op vir Neels. Hy het ‘n twintig ton wipbak kombinasie ryker geword. Abie is so opgewonde soos ‘n standard ses seun as sy stem begin breek. Neels parkeer die bleekblou Mandadator met sy dowwe groen wipbak leunwa met trots voor die vertoonlokaal. Twee dae later stap Gunther, ‘n Duitser wat met huise spekuleer, nader om te verneem of die gebruikte wipbak kombinasie te koop is. Neels knik instemmend en benadruk die feit dat die voertuig net vir om die pot vragte geskik is. Gunther verseker Neels dat hy net binne die Vaaldriehoek vragte sand en boumateriale sal aflewer. Selfs Abie is tevrede met die kontant transaksie, al is die Mandator se eienaar ‘n Duitser.
Drie weke later maak Gunther ‘n draai by Neels met ‘n paar kilogram bluttworst, vars uit Namibië: kennelik van ‘n tevrede kliënt.
‘n Maand later stap Gunther onverwags Neels se kantoor binne, buite staan sy Mandator en luier. Ek het julle wipbak kombinasie terug gebring. My werk het so begin blom sedert ek hom gekoop het dat ek nou genoodsaak is om hom in te ruil op ‘n splinternuwe 17 kubieke meter kombinasie. Hy moet tenminste drie honderd bulperdekrag hê, want ons werk verder as om die pot. So gesê so gemaak. Die Mandator het wragtag weer staanplek kom soek, brom Koos uit sy hoek.
Die lente het aangebreek en Neels trek die Mandator kombinasie voor die werkswinkel. ‘n Paar stonde later betrag ‘n pastoor en sy skoonseun die geliefde kombinasie. Neels loop ongesiens na die potensiële kopers en vergewis hulle van die puik werkende toestand van die gebruikte voertuig. Die pastoor se skoonseun stel voor hulle ry ‘n draai tot by die sandsiwwery. Neels laat Willem die stuurwiel vat en hy en die pastoor ry styf ingepak saam op die passasiersbankie. Willem ken die Mandator en gee sy tevredenheid te kenne. Hy stel voor hulle laai ‘n vrag riviersand aangesien hulle nou by die gesifte sand aanleg is. Neels het geen beswaar nie aangesien die vrag kwalik twintig kort myle ver afgetiep word.

Alles loop klop disselboom en spoedig is hulle terug in Neels se kantoor. Die pastoor haal sy tjekboek uit en is tevrede met die koopsom. Koos brom onderlangs dat daai tjek gaan hop… Neels begin onbeheersd lag vir die beste grap wat hy in jare gehoor het. Abie is tevrede en ken die pastoor al jare lank, daarom lag hy lekker saam met Neels. Die geskiedenis herhaal hom met mening; ses weke later kom kuier die pastoor en Willem met breë glimlagte. Buite staan die Mandator en luier tevrede, hy het nog ‘n keer huistoe gekom! Al wat die pastoor kon sê was goeie nuus vir aldie betrokke partye. Hulle werk het so vlamgevat sedert hulle die Mandator gekoop het, nou is hulle genoodsaak om ‘n splinternuwe twintig kubieke meter wipbak kombinasie aante skaf. Ek vertrou dat Neels, groot asseblief, die Mandator sal inruil op die transaksie? Dis nou ‘n sprekende voorbeeld van déjà voux!
Die volgende oggend roep Abie vir Neels na sy kantoor. Ek wil jou ‘n aanbod maak, beskou dit as ‘n uitdaging. Oor ‘n maand is dit Krismis. Indien jy hierdie Mandator voor die eerste week in Desember finaal groet, kan jy al die wins in jou sak steek; my deel ingesluit. Neels kry knop in die keel, staan op en gee Abie ‘n Joodse kus op die voorkop. Ek sal jou verwagting gestand doen, meneer Goldstein, sê Neels met vaste oortuiging. ‘n Paar dae voor die sper datum stap ‘n omgesukkelde boer van Hoopstad Neels se kantoor binne. Ek sien daar staan ‘n Morewear tipper onder julle afdak. As die prys reg is, kom haal ek hommet my eie perd. Ek stel nie belang in die Leyland nie, hulle is dekades gelede van die mark af. Ek saam met jou, verseker Neels vir Piet Nel, die boer in kakieklere. Kom ons stap na die Morewear om seker te maak jy is tevrede.
Langs die Mandator staan ‘n nege meter lank vierwiel sleepwa met massakante, Piet wil weet of dit ook te koop is.
Alles wat hier staan is te koop. Nou gee my die prys van die twee waens, asseblief! Hulle stap terug na Neels se kantoor. Wag net ‘n oomblik, ek wil ‘n spesiale prys vir jou beding by die direkteur. Na enkele minute kom Neels terug met ‘n skitterende transaksie. Meneer Goldstein sê jy kan beide die waens vir dertig velle kry, daar is ‘n haak agteraan die Morewear, dan koppel ons die hele kombinasie aanmekaar en ons lewer hulle op jou plaas af met die Mandator. Nou praat Neels in die hoogste rat. Piet, jy gee seker nie om as ons die Mandator sommer op jou plaas los nie? Hier beteken hy niks vir ons nie. Die boer is in sy sewende hemel, jy kon sweer hy het vyftien ton mielies op droë land ge-oes! Weet julle om kontant te tel, ek het genoeg in my akte tas saamgebring. Skielik is Abie in die kantoor, so’n kans kan sy geoefende vingers nie ontglip nie.

Nadat Piet Nel verkas het, kom sit Abie in Neels se kantoor in dieselfde stoel van die kliënt. Ek wil net voel hoe sit ‘n man wat by jou koop en vir iets betaal wat hy pasella by jou gekry het. Neels, jy is erger as ‘n boere-jood. Vandag het jy ‘n manjifieke driekuns met ‘n Mandator behaal. Selfs jy sal dit nie kan ewenaar nie. Vir ‘n lang ruk het Neels en Abie net in stil geselskap saam gesit, tevrede in respekvolle dankbaarheid.
Hannes van der Westhuizen was born, raised and educated in Pretoria. He tried varsity, did not like it and took up a job with Lever Brothers.
A colleague suggested they try being salesmen after reading a newspaper ad. On his first assignment, Hannes managed to get a large corporation in Kimberley to buy calculators and once he was handed his first commission cheque, he was hooked on sales.
Hannes was head-hunted by a truck sales company and was completely smitten. He and his proper love, wife Elma, retired to Anerley where they enjoy being beachcombers.

