Wat is ‘n huis sonder ‘n moeder; wat is ‘n hen sonder haar kuikens en wat is ‘n plaasboer sonder sy vellies? Neels gooi sy munt in die beurs met albei hande; en wat is ‘n lorrie sonder sy drywer! Hierdie onderwerp is skeepsreg in sy kraal. Die optimale toepassing synde dat elke lorrie slegs deur sy eienaar gedryf word. In die grote VSA is elke trucker tuis in sy eie trok. Neels het hierdie bewese sukses strategie aan een van die senior hoofde van die toentertydse SAR se padvervoer voorgestel.
Hoe kon hy, nat agter die ore lorriesmous, enigsens reaksie van ‘n senior amptenaar verwag?
Dekades later het groter vervoerkorporasies egter die lig gesien en kontrakte met drywers aangegaan wat eienaarskap aan elkeen se lorrie toegeken het. Die bewese drywer is die basiese sleutel tot sukses in die vervoerbedryf.
Aanstons het Neels die drywer se aandeel ook in die lorriesmous se sukses raak gesien. Indien die nuwe trok eweskielik begin olie sluk, die voorbande altoos skeef afloop en die koppelaar enige tyd kapoet raak, was die hek oopgelaat vir Neels. Of hy kon sy skouers optrek en die probleme na die tegniese afdeling verwys, of self die leeu in die bek kyk. Met groot agting vir sy kliënt se teleurstelling en verlies het Neels bewese syfers en inligting op die tafel geplaas.

Elke probleem is aangespreek en Neels het onderneem om die betrokke drywer weer te evalueer. Slegs in uitsonderlike gevalle was sy aanbeveling dat die moedswillige drywer wat willens wetens skade veroorsaak het, ontslaan word. Die langtermyn oplossing was gemik op gereëlde opleiding en monitering van die drywers. Hierdie aanslag het vrug gewerp; die eienaar was in sy skik en Neels se lorries het in geoliede ratte gewerk.
Menige drywers het Neels as kleinnood beskou, asof hy aan hulle kant was, hulle op hom kon staatmaak.
‘n Basoetoe drywer het op ‘n Sondagmiddag by Neels se huis opgedaag. Nou wat bring jou na my kaia toe, Klaas? Ek bring vir jou en die Nonna twee kadotte van my land in die Malutis, net om dankie te sê. In emosie belaaide stilte het hulle mekaar die hand gegee. Nadat Klaas na ‘n beker boeretroos verkas het, merk Neels teen sy Nonna op: dis wat die Engelse bedoel met job satisfaction.

Neels het op ‘n keer in ‘n slagyster getrap en saam met sy groot kliënt die groot wiele laat rol. Darem nie vir te lank nie, want hy was gebore om lorriesmous te wees, tot vandag toe. Iedergeval, Neels het kontrak met die staalfabriek aangegaan om betonstaal aan die myne op die Goudveld te lewer. Bykans die helfte van sy vloot sou eksklusief toegeken word om duisende tonne gebondelde staal in vyf en twintig ton vragte van Dunswart na Welkom te skuif.
Alles het klopdisselboom verloop tot daardie gewraakte oproep Woensdagmiddag.
Dis Alex, die omgekrapte stoorman by die myn: Neels jy is een vrag agter skedule sedert laas week, hoekom reageer jy nie op my fakse nie? Neels vermy enige konfrontasie en vra nederig om verskoning. Alex, voor ses more vroeg is al die vragte weer op datum. Hoe jy dit gaan regkry is jou saak, anders raak jou kontrak betrokke, waarsku Alex. Neels het geweet dat hy geensins met selfs een bondel agter geraak het nie. Alex was die vlieg in sy salf om hom uit die kontrak te lig om spasie vir ‘n vriend te maak!

Met mening klap Neels vas teen die Loskop in die hittige oond. Hy stuur Japie Mofokeng, sy hartklop drywer om die agterstallige vrag te gooi. Nou moet jy mooi luister Jaapman. Laas maand jou lorrie het nuwe tekkies gekry. Blaas hulle met twee bar hoër en gaan laai ‘n dubbelvrag by Dunswart. Moenie voor halftien by die nag uit die fabriek ry nie, dan het al die aasvoëls gaan slaap. Gebruik al sestien ratte onder vrag, moenie vinniger as sestig ry nie, dis die abnormal vrag. Jy ken van hulle, herinner Neels vir Japie wat gemaak aandagtig luister. Jy moenie worrie nie, Neels, ek weet om te roei met die groot skip.
Dis hoekom ek net vir jou vra om vyftig ton one skat te gooi. Jy kry dubbel bonus as jy more middag sonder skade terug kom.
Neels het rustig gaan slaap en genadiglik was die selfoonduiwel nog nie gebore nie. Voor toemaaktyd Donderdag staan Japie uitgerus voor Neels se kantoor. Hier is jou vragbriewe, almal geteken, kondig hy die suksesverhaal aan. As jy wil kan jy my lorrie kom check? Dis nie nodig nie, Jaapman; hier is jou koevert. Jy verdien elke noot van jou bonus. Weereens besef Neels die onbetwisbare waarde van die bewese lorriedrywer.

Meer as ‘n dekade verby staan ‘n grys korrelkop en sy seun in Neels se kantoor. Ek kan sien jy raak ook grys en verkoop nog lorries, korswel dieselfde Japie Mofekeng. Nou hoekom bring jy jou seun saam met jou, vra Neels. Die rede hy is, my seun Jabulani, het ‘n kontrak by dieselfde staalfabriek in Dunswart gekry om vragte na Welkom te gooi.
Die BEE kantoor, hulle sê in hierdie brief, jy kan die lorrie vir my seun regkry; net soos die een wat ek gery het, die splinter nuwe Masiedies met die lang drie as trailer.
Jy moenie worrie met drywer opleiding nie, van kleins af Jabulani het saam met sy pa gery, die drywerbloed loop dik in sy are.Jabu gaan sy eie lorrie ry, niemand anders nie. Hulle maak mos so daar in die United States? Neels het soos ‘n tevrede maanhaar onverpoosd aan die brul geraak van die lag. ‘n Lorriedrywer het immers meer insig bekom agter die lorrie se stuurwiel as die senior bestuurder in sy leunstoel.

Hannes van der Westhuizen was born, raised and educated in Pretoria. He tried varsity, did not like it and took up a job with Lever Brothers.
A colleague suggested they try being salesmen after reading a newspaper ad. On his first assignment, Hannes managed to get a large corporation in Kimberley to buy calculators and once he was handed his first commission cheque, he was hooked on sales.
Hannes was head-hunted by a truck sales company and was completely smitten. He and his proper love, wife Elma, retired to Anerley where they enjoy being beachcombers.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
For news straight to your phone, add us on WhatsApp 082 421 6033
