BlogsOpinion

Die Lorriesmous: EenOOg tragiek

Deur sy pyn skreeu Neels: Ek het blind geraak in my linkeroog!

Vandag is die dag dat jou lorrie deur die toetsgronde draf Neels, tart die voorop-die-wa sekretaresse van die verkoopbestuurder. Meneer sê miskien – sal jy uiteindelik leer om nie wrakstukke in te ruil nie? Neels het goed geleer om op die vierde asemteug te grynslag sonder om ‘n woord te sê. Ewenwel, die twintigjarige Benzie 1418 se enjin het soos tant Gertie se Singer geklop as sy haastig raak op ‘n lang baan. Dis oor kleinighede dat Whitey, die toetsbeampte, die 1418 nou al driemaal teruggestuur het. Daar was weliswaar ‘n effense speling op die stuurmeganisme wat net deur die toetsgronde se spesiale instrumentasie bepaal is. Spanner Nel, die werkswinkel voorman, stel Neels gerus: Dit gaan jou net ‘n halfuur arbeid kos, dis twee draaie teen die horlosie en drie draaie saam met die horlosie met my nommer twaalf ring spanner op ses moere. Neels knik sy kop instemmend en frons ernstig om Spanner se bekwaamheid te bevestig. Vir die wis en onwis het Neels einde ten laaste self agter die wiel geklim en die 1418 perdjie deur sy passies laat draf. Hy parkeer statig en afgemete ten aanskoue van ‘n koor twyfelagtige kollegas.

 

Wikipedia

Met groot gebaar klim Neels rats uit die perdjie en wink die drywer nader. Jakkalas is betroubaar, flink en bowenal ‘n uiters bekwame drywer. Hy geniet die aandag en maak keelskoon voor hy vir Neels die versekering gee: Voor teetyd bring ek jou die 1418 se sertifikaat. Vyf minute voor tien maak Jakkalas stilweg sy opwagting. Hy staan met ‘n gemaak uitdrukkinglose frons tussen sy oë. Sy lippe prewel onbekende geluide om Neels te ontsenu. Neels speel saam om die toehoorders waarde te gee vir hulle teenwoordigheid. In ferm en afgemete woordspel laat hy hoor: Jakkalas, vertel my wat het Whitey hierdie keer rooi gemerk. Die drywer is nie op die bek geval nie: Daai man het wragtag alles getry om fout te kry. Vir oulaas toets hy weer die kopligte. Hy skud sy kop en wys my die linker-voorlig – hy’s kapoet. Net daar vat ek hom by die skouer en wys hom die spaargloeilamp en my ster-skroefdraaier. Gelukkig was Whitey se chief ook daar en knik sy kop. Ek het daai gloupie in rekordtyd gechange. Die Chief het self die lig getoets en Whitey aangesê om die sertifikaat te skryf. En met sy laaste woord trek Jakkalas die sertifikaat uit sy binnesak. Iemand het liggies begin hande klap. Aanstons het die applous geruis soos ‘n reënbui op ‘n sinkdak. Neels strek sy hand uit na Jakkalas. Sy linkerhand trek ‘n groot noot uit sy hempsak en druk dit in Jakkalas se dankbare hande. In daardie jare kon Jakkalas, met traan in die oog, nog sê: Dankie Baas Neels. Daardie foutiewe linker koplig sou nog lank by Neels spook.

 

Pixabay

Jakkalas se dankbare uitdrukking in albei sy oë bly steeds vassteek by Neels. Hy en die drywer se oogkontak het die 1418 sege onderstreep en hulle kennelike erkenning teenoor mekaar. In Neels se voorlaaste jaar voor sy teësinnige aftrede trek die noodlot hom nader. Tydens ‘n geselligheid in hulle lapa torring sy wederhelf weer aan sy sensitiewe verhemelte. Neels, luister hoe perfek lees Marie se man ‘n gedig van Marais voor van sy Nokia se kleinskrif. ‘n Maand gelede sou hy met sy diklensbril nie so kon lees nie. Nou vryf sy parmantige vroulief die sout behoorlik in: En as ek jou uit die bloute wil druk en behoorlik soen, is jou bril altyd in die pad. Neels swig uiteindelik onder die druk. Almal se oë is op hom gerig. Hy gooi beide sy hande in die lug en maak keelskoon: Geagte toehoorders, hiermee onderneem julle gasheer en innige eggenoot van die Lorriesmous se vrou om binne 48 uur ‘n afspraak met die befaamde Ophthalmoloog te bekragtig. Ek is ook moeg vir my berugte multifokale bril wat alewig skeef sit. Binnekort word my katarakbesmette lense vervang met sintetiese mirakels! Dan lees ek A G Visser se satires tot julle trane loop. Maak vol julle glasies…

Pixabay

Dr Kurt de Koker was voorwaar een van die pioniers op sy vakgebied met vele suksesverhale om sy groot praktyk te regverdig. Sommige pasiënte het selfs sover as die Kalahari gekom om plastieklense te kry. Tydens Neels se eerste inligtingsafspraak wou dr Kurt weet of die prosedure duidelik gestel is en indien daar enigsins ‘n vraag bestaan, is die tyd nou reg om dit te doen. Hy het Neels ast’ware uitgedaag met sy manhaftige houding. Neels maak sy rug reguit en kyk die spesialis vas in die oog: sê my Dokter, bestaan daar ‘n geskrewe waarborg wat my waterdigte gerusstelling bied? In lae toonhoogte met afgemete reëlmaat kom die dokter se geoefende antwoord. Selfs die ginekoloog kon jou pa g’n waarborg oor jou geboorte gee nie. Julle manne wat karre en lorries verkoop, werk met waarborge. Neels was nie ‘n ‘happy camper’nie maar het nogtans sy vrou gerus gestel dat hy eerskomende Dinsdag ingaan om geslag te word. Eers die regter-oog en twee dae later die linker een.

Pixabay

Dinsdagaand is Neels terug by die huis met die moeder van oogklappe op die nuwe regter-oog. Nou hoe gaan ek met die affêre slaap? Met jou oog bot toe, anders sien jy spoke. Sy wederhelf het nou die hef in die hand. Sy gooi ook die druppeltjies volgens voorskrif uit tenminste vier botteltjies. Die volgende dag speel Neels en sy vrou dokter-dokter. Loretta het êrens ‘n verpleegster se uitrusting bekom en jag Neels se bloeddruk op met haar getrippel in die slaapkamer. Toe hy rooiribbokram streke wou uithaal, druk sy hom ferm terug tussen die kussings. Dokter Kurt het uitdruklik enige aksie belet met die klap op jou oog. Nou waarom staan en trippel jy soos ‘n wulpse nursie om my? Sy lieflingvrou vryf deur sy wilde kuif en gee hom die versekering: More is jou linkerkyker se beurt. Hierdie naweek het ons iets om te vier.

Pixabay

Dr de Koker had geen beswaar gehad dat Neels ‘n week later begin lorrie smous nie. Sy nuwe lense was kristalhelder en hy was in die sewende hemel sonder ‘n lastige bril. Die botteltjies is saam kantoor toe en hy het optyd die druppels toegedien. Donderdagmiddag ruk GrootPiet op in sy kantoor. Ons het vanaand ‘n Raadsvergadering en op die agenda is die sewe brandstoftankers vir ons Lesotho operasie. Hier is die spesifikasie. Solank jou kwotasie my voor halfsewe E-pos, bly ek jou lojale kliënt. Neels bedank Piet en stoot hom ewe kalm uit sy kantoor. Hier is twee dae se werk wat voorlê en hy het slegs drie ure beskikbaar. ‘n Brandstoftenk met meters, pompe, pype en kompartemente om duiselig van te raak moet foutloos gespesifiseer en bereken word. Neels het so verdiep geraak in hierdie uitdagende opdrag dat hy onbewus met homself praat en ook duidelik antwoord gee agter die geslote deur. Die groot wyser tik verby kwart-oor-ses en Neels strek behaaglik uit na bykans drie uitmergelende ure. Hy moes sesuur druppeltjies gegooi het,maar nou gaan die muis eers die stuur ikoon besoek en dan kliek hy die instruksie. Piet se kwotasie is betyds en oppad deur die elektroniese golwe. Neels betrag sy werkstuk met trots en lees die aanhef asof daar toehoorders is. Met die derde paragraaf spring sy linkeroog uit gelid. Neels skud sy kop, maak sy oë toe en begin verder lees. Nou is die skrif dof en die skerm beweeg van kant tot kant. Neels druk sy linkeroog toe en kyk met sy regter. Daar’s nie fout nie. Nou druk Neels sy regteroog toe en moet die linker die kykwerk doen. Aggenee! Hy sien net vaal dowwe beelde. Gelukkig ken hy die Oogspesialis se nommer uit sy kop en skakel hom daar en dan. Op die twintigste lui kondig ‘n geblikte stem die weksure aan. Dis al wat sy sê. Geen na-ure of nooddiens detail word verskaf nie. Neels klim in sy kar en ry sukkel-sukkel huistoe. Hy blaas die toeter voor sy garagedeure en Loretta maak haar besorgde verskyning. Neels klim uit en gaan sit in die passasiers sitplek. Nou moet jy my hospitaaltoe jag. Vrou; jou man se linker oog is gefuse. By die ontvangs verduidelik Neels sy penarie. Die diensbeampte is werklik bekommerd en vol emosie toe sy hulle inlig dat Opthalmoloë nie ne ure diens lewer nie. By die huis aangekom gaan lê Neels met hamerslae op sy linkeroog.

Pixabay

Dis ‘n benoude brandpyn wat meer intens word. Loretta skakel navrae vir die dokter se nommer, in die telefoongids is hy nie gelys nie. Die navrae man bevestig dat Dokter Kurt nie ‘n gelyste nommer het nie. Dan bel ek sy vennoot, Gerrie Marais. Neels verduidelik sy dilemma aan Gerrie. Hy kan tersluiks niks vir Neels doen nie, dit sou oneties wees want hy is Kurt se pasient. Gee my dan sy telefoon nommer, skreeu Neels sy versoek. Toe Gerrie begin verskoning maak dat selfoonnommers privaat gehou word, sidder Neels in sy woede. Dan kom haal ek sy nommer by jou. Ek is besig om blind te raak! Gerrie gee hom die nommer in strenge geheimhouding. Daar is g’n antwoord by Kurt nie. Net na agt raak Neels bewus van ‘n vreemde sensasie, asof ‘n trein verby snel. Dan word ‘n swart gordyn oor sy linkerkyker getrek. Hy druk sy regter toe en sien slegs die gitswart dood met sy linker. Loretta huil hardop toe Neels haar van sy linkeroog se afsterwe verwittig. Hierdie is nie ‘n nagmerrie of sepieverhaal nie. Neels en sy geliefde is by die koue diepkant van die wrede realiteit in gegooi. Terwyl Neels veg teen die uitmergelende pyn, skakel Loretta naarstigtelik Kurt se nommer. Net voor tien antwoord hy uit ’n hotelkamer in Kaapstad. Die telefoon se klank is oopgestel en Neels hoor dat Kurt vir ‘n week lank in Kaapstad is met seminare oor sy triomfantlike agendas. Deur sy pyn skreeu Neels: Ek het blind geraak in my linkeroog! Nou raak Kurt ernstig. Jy moet binne drie-uur by ‘n retinaloog geopereer word, anders is jy permanent blind. Asseblief, kan jy die operasie vir my reël? Soebat Neels. Ongelukkig is ek in Kaapstad en al my kollegas is nou af van diens. Ek sal met Gerrie reël om jou eerste morevroeg te help. Vir die pyn gaan jy noodapteek toe. Laat die apteker my bel dan gee ek hom die voorskrif.

 

Pixabay

Die pilletjies het die ergste hamerslae verlig en Neels het roggelend aan die slaap geraak. Vroegdag maak Lorreta hom met ‘n gil wakker. My liewe man, jou linker gesig is rooi en jou oog toegeswel! Voor sewe wag hulle voor Gerrie Marais se spreekkamer. Gelukkig was die wagtyd kort en Gerrie maak sy opwagting. Sy mond val oop toe hy Neels sien. ‘n Vinnige ondersoek en Neels en Loretta is oppad na Dr Robby Nutt, bekwame retinaloog. Met hulle aankoms, wag Robby hulle in op die parkeerterrein. Met sy volgende gewaarwording word Neels deel van die teater in sy beswyming. Na drie ure is alles verby. Robby en Loretta is in gesprek en onder die indruk dat Neels nog nie ontwaak het nie. Hy vertel Loretta dat hy alles in sy vermoeë gedoen het, dog dit was tevergeefs. Indien hulle net ses ure vroeër was…Robby prewel die doodsvonnis: Jou man is permanent blind omdat ‘n vreemde virus die oog binne gedring het. Die bloedtoevoer na die miljoene kleur- en ligselle is venietig, die retina is buitewerking gestel. Neels lê doodstil asof nog steeds onder narkose. Hy hoor hoe Loretta onbedaarlik snik. Dis nou bykans tien jaar gelede dat hierdie verwoestende tornado vir Neels bygekom het. Loretta is nie ongeskonde gelaat nie, Neels tuur oor die eindelose blou einders met dankbaarheid. Sy regter koplig is steeds in werkende toestand. Hy bewaar die sertifikaat veilig in sy hart. Sy linkeroog sit veilig op sy plek. Dr Nutt het hom uitgehaal, skoon gemaak en vasgeheg. Wanneer Neels uitbars van die lag dat die trane loop, werk die linkeroog saam, sy trane loop ook vrylik! Aan die einde van die dag… ala Naas, sien Neels dinge beter met ‘eenOOg’. Hy en Loretta het uit die kake van die ysige dieptes onsnap en swem voort met kragtiger hale. Eendag gaan hy ‘n seminar aanbied oor die kanniedood 1418 met net een koplig.

Pixabay

 

Hannes van der Westhuizen.

Hannes van der Westhuizen was born, raised and educated in Pretoria. He tried varsity, did not like it and took up a job with Lever Brothers.

 A colleague suggested they try being salesmen after reading a newspaper ad.  On his first assignment, Hannes managed to get a large corporation in Kimberley to buy calculators and once he was handed his first commission cheque, he was hooked on sales.

Hannes was head-hunted by a truck sales company and was completely smitten.  He and his proper love, wife Elma, retired to Anerley where they enjoy being beachcombers.

 

HAVE YOUR SAY

Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Check Also
Close
Back to top button