Ja nee, soms moet selfs ’n lorrie op ’n vreemde pad loop om anderkant uit te kom. Wanneer die vrag gelaai, vasgemaak en geseil is, word die aflaaibestemming en vragdokumente aan die drywer oorhandig. Eers dan word die waarskuwing oorgedra: Wees versigtig wanneer jy met die Lootsbergpas te doen kry. Daar lê menige wrakke onder die kranse omdat die dik mis en kronkels onderskat is. Hou jou oë wyd oop en bly in die laagste rat teen die steiltes af… verstaan ons mekaar? Neels en Dirk Visser korswil by Mooinooi se watergat. Dirk het vanmiddag sy derde perd bestel en nou bespreek hy en Neels die fynere detail. Dirk het in die Permitjare sy eerste Diamond T met dubbel-as leunwa gekoop uit sy oorlogbonus. My Diamond T is na 25 jaar en amper drie miljoen kortmyle afgepension en rus nou in my stoor, toegetrek onder ’n seil. Dirk blaas die skuimkop af en gooi sy kop agteroor. Ek en daai lorrie kan jou van kronkelende bergpasse vertel van die Limpopo tot by Tafelbaai. Ons is deur die Swartberg, Du Toitskloof, Tradouw, Normandien en, die ergste derduiwel van almal: die Long Tom Pas.

Vroeg oggend slaan ons voet in die pad met vyf en twintig ton bloekompale na Nelspruit toe. Ek en my lorrie werk al drie jaar saam en het al tonne teer- en grondpaaie verorber. Hierdie trippie sou my nie langer as vyf ure agter die stuurwiel hou nie, so het ek gedink. Skielik spring ’n tammaai rooi flikkerlig op om die eerste draai. Op ’n reuse waarskuwingsbord word die moeder van bergpasse aangekondig. Long Tom Bergpas, hemelhoogte en baie kilometers lank: swaar voertuie laagste rat! Daar was ’n aftrekbaan met stopteken vir die lorries. Voor my was daar twee ouerige Engelse trokke, albei Leylands. En daar kruie ons drie menere so saam-saam die helse hoogtes af. Hierdie is my vuurdoop in die Long Tom en ek volg die twee ou menere voetjie vir voeitjie om naalddraaie. My Diamond brul met ’n diep grom en ek hou die hittenaald in die oog. Gwha, gwha-gwhaaa! Die voorste Leyland se kop staan skeef soos die gesoute drywer teen die wal opbeur om te verhoed dat die afgrond hom sluk. Hy kom in ’n stofwolk tot stilstand met sy trok en vrag op al sy wiele. Gelukkig is daar net-net verbykom kans en ek los die twee ou menere net daar met hulle kokende enjins. Later sou ek hoor die beseerde ouman het die conrod deur die blok gegooi toe sy pistons vasslaan. Hoe laat kom jy toe in Nelspruit aan? wil Naas weet. Net toe die son rooioog gooi oor die plantasies, prewel Dirk uit respek vir die Long Tom. Ek het daardie dag ’n pad gevat waarvan ek niks geweet het nie.

Neels staan voor die spieël en bekyk sy voorkoms. In sy beginjare as lorriesmous is hy geleer hoe om homself te projekteer. Die kardinale gereedskap om die kliënt se aandag te boei was sy prominente helderblou kykers. Neels se skerp blik afgewissel met ’n onverwagte frons en breë glimlag het boekdele gespreek. Sonder om ’n woord te spraak terwyl hy sy prooi geboei hou in sy oogkontak, trek hy die bestelboek uit sy aktetas en skryf die bestelling. Terwyl hy skryf lees hy die detail voor aan die koper sonder enige hunkering. Neels se oë het die job gedoen. Nou is slegs sy regteroog flikkerend terwyl sy linker half toegeknip saamspeel. Saggies prewel Neels by homself: Noudat my linkeroog gesterf het, is ek halfblind of enigsinds gesig gestremd? Dis drie weke na daardie wrede Donderdagnag net voor die Lente aanbreek. Neels kom sy eerste opvolg afspraak na by Kurt de Koker. Met sy aankoms by ontvangs is daar skielik ’n wolk van onrustige stilte in die vertrek. Stap maar deur na dokter se kantoor, word Neels toe gefluister. Die deur staan effens oop en Neels stap Kurt se kantoor binne. Hy neem plaas in die ondersoekstoel, gereed vir die opthalmoloog. Kurt is ’n kort mannetjie, skrumskakel gestalte. Half gebukkend betree hy sy kantoor en stop in sy spore toe hy Neels in die stoel merk. Neels kyk hom stip aan met oopgesperde oë. Nou spreek Neels hom ferm aan op sy voornaam.

Staan nader Kurt, ek wil jou net een vraag vra nadat jy my linkeroog ondersoek het. Kurt antwoord onderdanig dat die ondersoek onnodig is, hy het die verslag van die retinaloog ontvang. Neels wink hom nader en kyk hom vas in die oë. Sê my dokter, wat het my linkeroog blind gemaak? Kurt bly doodstil en breek Neels se oogkontak. Hy kyk af grond toe en begin beduie met sy hande asof hy iets soek. Uitendelik skraap hy moed bymekaar en praat in duidelike en afgemete trant: So iets moes nooit gebeur het nie. Dis was so onnodig. Ongelukkig het jy aan iets gevat wat besmet was en toe aan jou oog gevryf. So is die virus in jou oog oorgedra. Al wat Neels kon uitkry is: Dan is ek blerrie gelukkig dat ek nie my regteroog ook gevryf het nie.
LEES OOK: Die Lorriesmous: EenOOg tragiek

Terwyl hy terug ry, beplan Neels sy strategie om geregtigheid te laat seëvier. ’n Oog vir ’n oog, gons die teksvers deur sy kop. Net oorkant die Vaalrivier trek hy af onder ’n peperboom. Hy bekyk hom in die truspieël. Hy druk sy regteroog toe. Die dag verander in gitswart nag. Neels grom soos ’n gekweste luiperd. Soos oorlede Pa sou sê: gaan trap die man met jou kaalpoot vas en griffel sy linkeroog uit met ’n geroeste desertlepel. Nou is Pa nie meer daar om my aan te sê nie. Ek ry liewer na Bok du Preez, jarelange vriend en prokureur. Bok laat Neels nie lank wag nie en maak hom sit in ’n gemakstoel. En wie het jou bygekom in die linkeroog, gemaak vra Bok asof hy nog nie die nuus gehoor het nie. Luister nou mooi Neels. Hierdie mediese kwessies hanteer ek glad nie. Ek wens ek kon jou saak beveg. Daar is slegs twee praktyke waarna ek jou kan verwys. Die Afrikaanse praktyk is in die Jakarandastad. Onwetend het Neels die onbekende kronkelende steilte aangepak.

Louis van As het Neels se saak hanteer. Van meet af het hy gewaarsku dat hierdie ’n lang proses gaan wees. Hy het Neels egter verseker dat hy ’n sterk saak het. Om die eis te takseer is ’n allemintige uitdaging. Die goeie nuus vir Neels was dat hulle geen fooi van hom verwag nie. Al hulle koste sal deur vyf en twintig persent van die eisbedrag gedek word. In die daaropvolgende maande en jare moes Neels van bakboord na stuurboord reis om ondersoeke en toetse deur te maak. Die verslae was nodig om die bewyslas te ondersteun. Indertyds is Neels teen sy wil afgetree en hy en sy dierbare het hulle huisie by die see gekry. Neels was in gereelde kontak met Louis van As betreffende sy uitmergelende saak. Steeds is hy die versekering gegee dat die einde in sig is. Neels het hom in ’n nimmereindigende Long Tom pas bevind. Met net twee maande oor voor die saak verjaar, skakel Neels, hoog bedonnerd, vir meneer van As. Luister nou na my, meneer die prokureur. Indien jy nie binne twee maande dagvaar nie, is ons saak in sy pekie. Probeer jy my van die wet leer, kap Louis terug. Dieselfde dag ontvang Neels instruksie om deur ’n professor by die oogfakulteit in Pretoria ondersoek te word. Hierdie professor se relaas sal die knoop finaal deurhaak. Alle kostes, vervoer en verblyf, word deur die prokureurs gedek. Het Neels uiteindelik die kronkelende steiltes van die Long Tom oorleef?

Nadat die dikraam gebrilde professor sy ondersoek voltooi het, trek Neels hom nader. Sê my professor, wat sien jy is die oorsaak wat my oog blind gemaak het? Die gryskop in sy wit gewaad kyk skuins verby Neels en antwoord sonder enige emosie: Meneer, ek kan nie met jou praat nie, my verslag is slegs vir die prokureurs se insae. Neels is weer terug in die Long Tom en die afgronde wink. Gelukkig was Loretta by toe Neels die prokureursverslag per epos ontvang. Twee kort sinne: Daar is bevind dat jy permanente skade in jou linkeroog opgedoen het. Daar is geen bewyse gevind om enige persoon of instansie verantwoordelik te hou vir jou pemanente blindheid in die linkeroog nie. Hier het Neels se oorlaaide trok reguit op die afgrond afgepyl. Sy Engelvrou het die stuurwiel gegryp en die laaste draai met skrouende bande in ’n stofwolk kaf gedraf.

Hannes van der Westhuizen was born, raised and educated in Pretoria. He tried varsity, did not like it and took up a job with Lever Brothers.
A colleague suggested they try being salesmen after reading a newspaper ad. On his first assignment, Hannes managed to get a large corporation in Kimberley to buy calculators and once he was handed his first commission cheque, he was hooked on sales.
Hannes was head-hunted by a truck sales company and was completely smitten. He and his proper love, wife Elma, retired to Anerley where they enjoy being beachcombers.
HAVE YOUR SAY
Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
