BlogsOpinion

Die Lorriesmous: Padvalke en spietkops

Neels gesels te lekker met sy lieflingvrou en is onbewus van die hoogs ontstoke padvalk langs hom. Nou word die Lorriesmous bewus van die luidspreker wat dawerend op hom geprojekteer word. Neels trek besadig van die pad af, selfoon nog steeds op die oor. Dit is vet in die vuur!

Sekere ampte of sakebedrywe sal altyd ‘n negatiewe konnotasie saamdra. Die balju, omdat hy mense se huisraad en goedere opskryf en op ‘n veiling sit. Die lyksbesorger, gewis sal elkeen onder sy hande deurloop: grillige gedagte. Daar is meer etiese wetsgeleerdes as die gladde manne wat weet om dit wat krom is, pylreguit in die hof te maak. Ten laaste verdien die verkeersmanne hulle posisie. Neels het groot agting vir die vreeslose wetstoepassers op die paaie.

Met geoefende oog weet hulle wanneer ‘n trok verkeerd of oorlaai is. Hulle sal selfs hand bysit om vrag behoorlik vas te trek nadat hulle die voertuig met los vrag afgetrek het. Indien ‘n oortreder in sy sak vroetel en ‘n paar note uithaal, dan sal die stiptelik eerlike wetstoepasser die kansvatter stip in die oog kyk en formeel waarsku: Meneer, probeer jy my omkoop?

Dan verdwyn die note blitsvinnig terug in die broeksak en word sag geprewel: Nee meneer, skryf maar die boete, ek is skuldig. In die lorriesmous se bedryf het die padvalke ‘n noodsaaklike funksie vervul. Hulle het gesorg dat sy kliënte nie gereeld oorlaai en die drywers loshande cowboy speel agter die wiel nie. Sodoende is hoër winsmarges in die lang termyn gewaarborg met laer verbruikkostes. Sodoende is waarde toegevoeg op die Lorriesmous se transaksies. Neels het egter op ‘n paar geleenthede skouers geskuur net die verkeersmanne.

Pixabay

Die Lorriesmous is oppad terug na ‘n uitputtende, dog suksesvolle dag. Voor hom ry ‘n vierwiel aangedrewe kajuit en onderstel 10 ton vragmotor. Neels het hierdie skaars model by ‘n handellaar, sowat drie honderd kilometer ver, opgespoor. Gelukkig was hulle bereid om Neels tegemoet te kom en voorraad oor te plaas.

Neels het al vele tenders gewen dog hierdie is die eerste brandweerwa toekenning. Die son het begin water trek toe Vryheid vorentoe opduik. By die eerste robot trieng sy S4 met mening. Neels gesels te lekker met sy lieflingvrou en is onbewus van die hoogs ontstoke padvalk langs hom. Nou word die Lorriesmous bewus van die luidspreker wat dawerend op hom geprojekteer word. Neels trek besadig van die pad af, selfoon nog steeds op die oor.

Dit is vet in die vuur! Op sammajoorstyl word Neels beveel om uit te klim en die verkeersman te volg oorkant die pad. Hier word hy die Leviete voorgelees vir sy onbedagsaamheid en arrogansie om te bestuur en te klets op ‘n selfoon. Neels staar uitdrukkingloos verby die omgesukkelde man en kyk hom dan ernstig in die gesig aan. Meneer, weet jy met wie jy praat? Sien jy daai lorrie wat vir my wag?

Ek is die lorriesmous van hierdie hele streek wat sorgdra dat die kopers die optimale trok aanskaf vir hulle applikasie. Neels bemerk dat die padvalk sy keps afgehaal het, om beter te luister. Nou dryf die lorriesmous die spyker dieper in: Ek weet alles van kosteberekening en voorlegging van tenders. Volgens statistieke is daar sewe uit tien verkeersmanne besig om betrokke te raak by padvervoer kontrakte.

In hoë frekwensie en veel laer volume, kom die verkeersman aan die woord: Meneer, ek en my broer is nou besig met ‘n tender om gesaagde hout van Piet Retief na Richardsbaai te skuif. Die tender sluit oor tien dae. Neels haal sy kaartjie uit sy hempsak: Skakel my en maak ‘n afspraak. Bring al die dokumente saam, ek sal al die berekeninge doen en die forms invul. Al wat jy moet doen is om jou naam te onderteken.

Amper vergeet ek, vryf Neels die sout in; skryf nou gou my boetekaartjie, my vrou het netnou, voor jy my afgetrek het, gesê sy verlang na my. Hierdie spietkop is nie op die bek geval nie: Ek sou graag wou skryf meneer, maar my pen is droog. Meneer sal maar een van daai fensie lorriepenne vir my gee om die tender te onderteken. Met die groetslag skud hulle blad en lag luiddrugtig.

Pixabay

Met die gholfbaan aan sy linkerkant en die treinbrug twee kilometer verder, jaag Neels die toere op in derde rat van sy vyf twee agt sedan. Hy is effe laat vir sy afspraak met ‘n stiptelike vooraanstaande boer.  Soos ‘n vetgesmeerde blits suis hy onder die treinbrug deur en slap links verby die wildsplaas, sy afspraak nog so dertig kilometer verder. Sonder waarskuwing spring ‘n voorbarige padvalk voor hom in. Neels waarsku die brawe wetstoepasser om nie tyd te mors nie, wat het hy verkeerd gedoen?

Meneer het oor die dubbel sperstreep gejaag teen ‘n vreeslike spoed! Neels is erg moerig en praat die mannetjie aan om teen ‘n stink spoed sy kennisgewing uit te skryf. En hierdie verkeersman kon skryf! Hy kla Neels ook aan vir onbedagsaamheid, roekelose bestuur en dreigende houding. Die kersie op die koek was die dubbel sperstreep fiasko. Neels druk hom vinger in die oog: Van jou maak ek kleingeld in die hof, hoor jy my! Ses weke later staan Neels in die beskuldige bank.

Die aanklaer is ‘n netjiese dame wat die aanklag met groot oë lees, duidelik en afgemete. Neels pleit onskuldig op al die aanklagte. Die magistraat vergun Neels die geleentheid om sy saak ter ondersteuning van sy pleidooi te stel. Nadat hy breedvoerig aan die hof sy onskuld verduidelik het, vra hy die hof se toestemming om die padvalk te ondervra. Die grootoog dame het geen beswaar nie en die magistraat knik instemmend.

Pixabay

Neels is uitermatig kalm en selfversekerd en nou bevind die padvalkie hom aan die ontvangskant, sy snorretjie begin liggies vibreer. Neels vra hom die sleutel vraag: Wat is jou lengte, meneer? Ek is effens aan die kort kant. Dus sou jy skrumskakel speel agter die oond, karring Neels verder aan die valkie se ongemak. Is ek reg as ek sê jy het onder die groot akkerboom gestaan by die ingang van die wildsplaas en die verkeer dop gehou.

Ja U Edele, antwoord die padvalk. Was daar kakiebosse en gras langs die teerpad wat jou uitsig kon bederf het? Neels dryf die verkeersman nou in ‘n hoek. Edelagbare, ek wil die volgende stelling met betrekking tot die sperstreep-oortreding maak. Die verkeersman moes tenminste twee en ‘n halfmeter lank wees om die padvlak by die sperstreep te kon waarneem. Sy posisie by die akkerboom was tenminste halwe meter onder straat oppervlakte en ongeveer sewentig meter van die sperstreep af. Ek het hierdie feit onder sy aandag gebring voordat hy die kennisgewing begin skryf het. Hy was hardkoppig en wou nie luister nie.

Hier het Neels die verfkwas sy werk laat doen. Die magistraat beduie dat hy genoeg geluister het. Hy gluur Neels stip aan en praat in ‘n skor stem: ek bevind jou skuldig op die aanklag teen jou. Ek het nog nooit ‘n verkeersbeampte se oordeel in twyfel getrek nie. In hierdie geval vind ek dit toepaslik om jou ernstig te waarsku om weer die padreëls te lees en toe te pas. Pasop ook vir slimjan speel in my hof, jy kan jou rieme styf loop. Die saak is dan in sy geheel afgehandel met ‘n ernstige waarskuwing aan die beskuldigde. Die ligte tik van die magistraat se hamertjie sou nog lank deur Neels se ore galm.

Pixabay

Daar’s geskiedenis in die Goudstad gemaak in die laat sestiger jare toe ‘n afgetrede miloenêr elke oggend en middag tydens hoë verkeerstye die vloei gereguleer het. Niemand kon ooit verbeter op sy werks-etiek en netheid nie. Deur sy gemaklike en onvermoeide handgebare en rats bewegings het die verkeersmanne ekstra punte by die publiek verdien. Soms oorweeg die Lorriesmous om ‘n derglike avontuur aan te pak.

Hannes van der Westhuizen.

 

 

Hannes van der Westhuizen was born, raised and educated in Pretoria. He tried varsity, did not like it and took up a job with Lever Brothers.

 A colleague suggested they try being salesmen after reading a newspaper ad.  On his first assignment, Hannes managed to get a large corporation in Kimberley to buy calculators and once he was handed his first commission cheque, he was hooked on sales.

Hannes was head-hunted by a truck sales company and was completely smitten.  He and his proper love, wife Elma, retired to Anerley where they enjoy being beachcombers.

HAVE YOUR SAY

Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from South Coast Herald in Google News and Top Stories.

Back to top button