Vervreemding. Wat is die effek van vervreemding op mense of binne ’n gemeenskap of werksverband?
Mense voel soms gemarginaliseer, uitgesluit van die gemeenskap waarbinne hulle leef.
Daar is ook iets soos selfverveemding. Vervreemding kan selfs lei tot ’n lae selfbeeld of depressie.
Vervreemding van God kan voorkom wanneer mens ontken dat daar ’n breuk tussen jou en God ontstaan het.
As ons sê dat daar nie vervreemding (sonde) tussen ons en God bestaan nie, maak ons Hom tot leuenaar, leer 1 Johannes 1:10 ons.
In Johannes se gemeente was daar mense wat gereken het dat hulle nie gesondig het nie.
Dit lyk of hulle selfs ontken het dat hulle van nature geneig is tot alle kwaad.
Hulle het gemaak asof die Christen se drie aartsvyande, die duiwel, die sondige wêreld en die sondige natuur nie bestaan nie.
As mens so maak is jy natuurlik besig met ontkenning, jy is besig om jouself ’n rat voor die oë te draai.
Dis ook om God tot leuenaar te maak as Sy woord duidelik aan ons vertel dat almal gesondig het en God se genade nodig het.
Dit kan ook beteken dat ons onsself probeer verontskuldig. Ons noem sonde, ’n slegte gewoonte, of ’n ligte mistykie, of dis maar hoe ek gemaak en laat staan is.
Of ons regverdig sonde, deur te sê dat dit is in orde solank niemand daardeur seerkry nie.
Hoekom nog ons sonde bely as God in elk geval alles weet?
Dis omdat sonde ons van God kan vervreem. Vergifnis het altyd ’n impak op ons verhoudinge, of met God of met ander.
Deur te erken dat ons gefouteer word die verhoudinge herstel. Natuurlik is mens nie eens altyd bewus van waar jy oortree het nie.
Die profeet Jeremia merk tereg in Jer_17:9 op: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” Dis tog net God wat ons van binne af uitken. Nader tot Hom wat jou volledig ken.
Dis dalk ’n goeie ding om te bely dat ons God se genade elke dag nodig het. So werk ons vervreemding teë tussen ons en God en raak dit ook ons verhouding met onsself en ander binne die gemeenskap ten goede.
HAVE YOUR SAY
Like the South Coast Herald’s Facebook page, follow us on Twitter and Instagram
